Woede oor Hongkong bekende aktrise van kwarantynreëls kwytskeld

Nicole Kidman op die Oscars-geleentheid in 2018. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Hongkong se besluit om die Hollywood-ster Nicole Kidman van kwarantynmaatreëls kwyt te skeld terwyl sy daar aan ʼn Amazon-reeks oor die lewe van ryk ekspats werk, het openbare woede ontlok.

Die Chinese finansiële spilpunt het van die strengste kwarantynmaatreëls ter wêreld, ʼn benadering wat virusgevalle laag gehou het, maar ook die meeste inwoners die afgelope 18 maande van geliefdes in die buiteland afgesny het.

Besoekers van hoërisikolande moet vir 21 dae in ʼn hotel in kwarantyn bly, terwyl besoekers van laerisikolande sewe dae in ʼn hotel onder kwarantyn moet bly, gevolg deur ʼn verdere sewe dae van self-monitering.

Kidman (54) is egter toegelaat om dié reëls te omseil.

Hongkong se Commerce and Economic Development Bureau het bevestig die Australiese aktrise en ander rolprentspanne is ʼn kwytskelding verleen “om aangewysde professionele werk” uit te voer.

Diegene wat uitgesonder word moet drie koronavirustoetse doen oor ʼn tydperk van twee weke voor hulle aankoms.

Die stad se koerante hou Kidman se bewegings in Hongkong, waaronder twee inkopiedae en verfilming wat in die stad se Sai Wan-distrik plaasgevind het, noukeurig dop nadat sy Donderdag met ʼn private vliegtuig van Australië in die land aangekom het.

Kidman is die uitvoerende vervaardiger van Expats, ʼn program geskoei op ʼn boek deur Janice YK Lee wat in 2016 gepubliseer is oor die vergulde lewe van drie Amerikaanse vroue in die stad.

Die sosiale media is sedertdien gevul met kommentaar deur ekspats en Hongkongers oor Kidman se kwytskelding van die kwarantyntydperk, asook die besluit om ʼn reeks te maak oor die land se ryk, buitelandse elite in ʼn tyd wat China hom van onenigheid in die finansiële spilpunt suiwer.

“Reg so, dis dit. My ma gaan haar naam verander na ‘Nicole Kidman’ en ek het pas my Gulfstream G650 gestuur om haar op te laai,” het @webbhk, ʼn rekening wat gewild is onder ekspats, op Twitter geskryf.

“Ek gaan ʼn rolprent maak oor haar besoek aan Hongkong. Dit sal genoem word ‘My ma besoek Hongkong’,” het @webbhk bygevoeg.

ʼn Gewilde ondersteuningsgroep op Facebook vir mense wat in Hongkong in kwarantyn is, is gevul met woedende kommentaar oor hoeveel plaaslike en buitelandse inwoners nie in staat is om hulle geliefdes te sien die afgelope twee jaar nie weens die maatreëls.

Elizabeth Quat, ʼn pro-Beijingse wetmaker, het gesê sy het “bekommernisse oor die kwytskelding van die kwarantynperiode wat toegestaan is deur die regering aan die aktrise Nicole Kidman” en dat sy “talle klagtes van Hongkongse inwoners ontvang het”.

Quat het bygevoeg dat sy gesondheidsbeamptes gevra het om die kwessie Vrydag met ʼn wetgewerskomitee te bespreek.

Terwyl uitsonderings vir kwarantyn gemaak kan word vir sommige senior bestuurders, gebeur dit selde.

Mark Tucker, voorsitter van HSBC, het drie weke se kwarantyntydperk voltooi nadat hy van Brittanje in Hongkong aangekom het.

Kidman se kwytskelding kom slegs enkele dae nadat Hongkong sy kwarantynmaatreëls verskerp het vir veelvuldige lande, wat die reisplanne van baie omvergewerp het nader aan die einde van die somervakansie en ʼn tekort aan hotelkamers tot gevolg gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sandra ·

Ek hou van Nicole Kidman, en ek kan nie verstaan hoekom sy so ‘n stap sou wou maak om nie in kwarantyn in te gaan soos elke jan rap op straat nie. Om hulle werk uit te voer? Hulle is nie werkers wat ‘n belangrike gesondheids rol in die samelewing lewer nie. So die reels moet vir hulle ook geld.

Jan Seerot ·

Geld wat stom is,
Maak reg wat krom is en,
Slim wat dom is

Anel ·

Kwarantyn is na my mening net ‘n massiewe geldmaak storie. Veral omdat jy in plekke moet bly wat vir jou aangewys is. Ons kinders wat op die oomblik tydelik in Engeland werksaam is, wou Desember ‘n vriend se troue kom bywoon en vir familie juier. As hulle terugkeer en omdat hulle van Suid Afrika kom gaan dit hulle amper
R100 000 vir die twee van hulle in kwarantyn kos, bo en behalwe of hulle geënt is of nie en al het hulle hier ‘n negatiewe toets gekry. En dan moet hulle nog ekstra betaal vir kos. En die regering wys die plek aan en dis vir 14 dae. Hierdie hele storie van die virus is na my mening ‘n siek geldmaak storie. Maar hierdie is maar net my mening.

Linda ·

En kan jy glo dat UK nou Indië op ‘n amber lys geplaas het. Dit beteken almal wat in Engeland van Indië inkom, kan by familie isolleer en nie die verpligte kwarantyn doen nie, maar SA bly op hul rooi lys. Ek stem 100% saam, dit is ‘n lekker geldmaak storie. Net jammer ons poppe betaal vir alles.

Pieter ·

Kul jou hier, kul jou daar. Covid maatreëls en kudde mentaliteit.

Diana ·

Hoe jammer dat sy en haar groep dink hul is beter as ander. Altyd soveel respek vir haar gehad maar nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.