Woede oor ontploffing lei tot gewelddadige betogings

(Foto: AP Photo/Felipe Dana)

Veiligheidsmagte het traangas gebruik om ontstoke betogers in Beiroet in Libanon uitmekaar te probeer jaag te midde van toenemende woede oor die reuse-ontploffing vroeër die week.

Die ontploffing het die lewe van meer as 150 mense geëis en meer as 5 000 mense is beseer. Tientalle mense word ook steeds vermis. Betogers het Saterdag die strate ingevaar en blameer politici se korrupsie en nalatigheid vir Dinsdag se ontploffing.

Met die aanvang van die betogings het groepies jong mans klippe na veiligheidsmagte begin gooi.

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

Naby die parlement het onlustepolisie traangas afgevuur op betogers wat oor versperrings probeer spring het. Die betogers het later ʼn vragmotor aan die brand gesteek. Talle betogers is beseer.

Die ontploffing is aangevuur deur duisende ton ammoniumnitraat wat vir langer as ses jaar onbehoorlik in die stad se hawe geberg is. Die ontploffing het skade van tussen $10 en $15 miljard aangerig met honderde geboue wat vernietig en duisende mense wat dakloos gelaat is.

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

Die verwoesting kom te midde van ʼn ekonomiese en finansiële krisis wat gelei het tot die ineenstorting van die Libanese geldeenheid teenoor die dollar, hiperinflasie, stygende armoede en werkloosheid.

Regeringsamptenare is glo jare lank herhaaldelik gewaarsku dat die teenwoordigheid van die ammoniumnitraat in die hawe ʼn ernstige gevaar inhou, maar niemand het opgetree om dit te verwyder nie.

Amptenare het mekaar die skuld gegee en 19 mense is intussen in hegtenis geneem, onder wie die hoof van die hawe, die hoof van die doeane-afdeling asook sy voorganger.

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

Die ammoniumnitraat, ʼn chemikalie wat in kunsmisstowwe en plofstof gebruik word, was afkomstig van ʼn vragskip genaamd MV Rhosus wat in 2013 vanaf Georgië na Mosambiek gereis het. Dit het ʼn onbeplande ompad na Beiroet gevolg aangesien die Russiese eienaar van die skip met skuld gesukkel en gehoop het om ekstra geld in Libanon te verdien. Die skip is geskut en in 2014 is die ammoniumnitraat van die skip verwyder en in ʼn pakhuis in die hawe geplaas waar dit tot die ontploffing geberg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Dit gaan in Suid Afrika ook so. Het dit self ervaar. Niemand wil leiding en besluite neem nie en indien jy dit waag om iets aan die saak te doen word jy intern ondersoek. Praat is koning, doen word verdoem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.