ZZ Top-baskitaarspeler (72) sterf

Dusty Hill van ZZ Top in Junie 2015 op die verhoog by die Azkena Rockfees in Vitoria, Spanje. (Foto: Ander Gillenea/AFP)

Dusty Hill, die langsdienende baskitaarspeler van die Amerikaanse rock-bluesgroep ZZ Top, is in die ouderdom van 72 dood.

Sy mede-groeplede het die nuus Woensdag op Facebook bekend gemaak.

Die oorsaak van Hill se dood is nie bekend gemaak nie. Hy het langer as 50 jaar baskitaar gespeel vir dié groep van Texas, wat uiteindelik in die Rock and Roll Hall of Fame ingehuldig is.

“Ons is vandag hartseer oor die nuus dat ons compadre, Dusty Hill, oorlede is in sy slaap by sy huis in Houston,” het voorsanger, Billy Gibbons, en tromspeler, Frank Beard, gesê.

“Ons, saam met ʼn legioen van ZZ Top-aanhangers reg oor die wêreld, sal jou standvastige teenwoordigheid, goeie natuur en langdurige toewyding om ʼn monumentale bottom te wees vir die top mis.”

“Jy sal baie gemis word, amigo,” het hulle bygevoeg.

Hill is in 1949 in Dallas, Texas, gebore. Hy het in 1970 by ZZ Top aangesluit, slegs ʼn jaar nadat hulle eerste enkelsnit uitgereik is.

ZZ Top – van links na regs is Dusty Hill, Billy Gibbons en Frank Beard. Die foto is geneem op die finale van die American Idol-seisoen van 2008. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Die driemanskap het langer as ʼn halfeeu dieselfde gebly en het gevorder van swaar blues na ʼn eksperimentele, sintetiseerder-klank van die 1980’s.

Die trio het wêreldbekend geraak met hulle kenmerkende voorkoms: lang baarde, sonbrille en Stetson-hoede.

Hulle het ook bekendheid verwerf vir hulle gewilde musiekvideo’s, waaronder “Gimme all your lovin” en “Sharp dressed man”, wat drie MTV Video Music-toekennings ingeoes het.

ZZ Top het 15 ateljeealbums uitgereik, met die mees onlangse een in 2012. Die groep is in 2004 in die Rock and Roll Hall of Fame ingehuldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.