Woolworths volstaan met kommentaar

Woolworths volstaan met hul kommentaar dat hulle nie rassisties is nie en dat hulle deur die Wet op Billike Indiensneming verplig word om ’n werksmag te hê wat op grond van ras, geslag en gestremdhede saamgestel is.

Woolworths word sedert verlede week oor die kole gehaal oor posadvertensies wat sekere rasgroepe uitsluit. Woolworths adverteer poste, wat uitsluitlik vir “swart Afrikane” of slegs “Afrikane, bruin mense en Indiërs” oop is.

Die vakbond Solidariteit het egter Dinsdag hul rassommetjies bevraagteken nadat hulle Woolworths se indiensnemingsbeleid-getalle nagegaan het. (Sien onderstaande tabel)

“Indien Woolworths sy rasbeleid toepas om sy arbeidsmag verteenwoordigend van die land se rassedemografie te maak, soos hulle beweer hulle doen, sal meer as 3 000 bruin mense en 400 Indiërs die maatskappy moet verlaat,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, Dinsdag gesê.

Hermann het gesê Woolworths voer aan dat sekere groepe ernstig onderverteenwoordig is in sommige areas binne die onderneming en dat dit ten opsigte van daardie areas is waar hy posadvertensies plaas wat die spesifieke rasgroepe teiken. “Woolworths adverteer onder meer ’n bestuurspos wat slegs vir ‘Afrikane, bruin mense en Indiërs’ oop is. Volgens Woolworths se huidige rassesamestelling is daar egter ’n oorverteenwoordiging van bruin mense en Indiërs op alle bestuursvlakke. Woolworths se argument dat hy verteenwoordiging op alle vlakke wil ‘regstel’, is dus nie geldig nie.” Lees Solidariteit se volle verklaring hier.

Maroela Media het Woolworths om kommentaar genader oor Solidariteit se aantygings en die maatskappy het geantwoord dat hy met sy kommentaar volstaan wat deur hul hoof uitvoerende beampte, Ian Moir, gemaak is.

“Oor die afgelope paar dae is daar baie dinge gesê oor ons indiensnemingsbeleid – spesifiek dat ons nie wit mense aanstel nie. Dit is nie waar nie. Woolworths stel wit mense aan. Ons stel vroue en mans van alle rasgroepe – wit, swart, bruin mense, Indiërs sowel as mense met gestremdhede aan en sal voortgaan om dit te doen. Soos alle Suid-Afrikaanse maatskappye het Woolworths ’n rol te speel in transformasie. Daarom is sommige poste vir aangewese groepe.” Lees Moir volle verklaring hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.