Drie keer ‘H’ vir Moedersdag: herwin, hergebruik, hersirkuleer

(Foto: Verskaf)

Deur Cay Momberg 

Die word glas kom van die Latynse word glacies wat ys beteken. Die optimis sê die glas is halfvol. Die pessimis sê die glas is halfleeg. Die projekbestuurder sê die glas is twee keer so groot as wat dit moet wees. Die realis sê dat die glas die helfte van die benodigde hoeveelheid vloeistof bevat om oor te loop. Die sinikus wonder wie die ander helfte gedrink het. Die skoolonderwyser sê dit gaan nie daaroor of die glas half leeg of halfvol is nie, maar of daar wel iets in die glas is.

Kreatiewe mense sê dat ons vandag se glas kan verander in môre se geskenk.

As jy kreatief dink, is daar letterlik duisende maniere om glas in en om jou huis te herwin, hergebruik en te hersirkuleer. So doen jy ook jou deel teen besoedeling.

In hierdie projek word herwinde bottels omskep in blompotjies deur gebruik te maak van spuitverf en herhaalde krabbelpatrone (doodle) te teken met ink- of verfpenne. Watter beter manier om groen te gaan, en buitendien is gebruikte bottels volop, gratis en kan in elke denkbare vorm en grootte gevind word.

Al ooit gewonder wat is die kernbestanddeel van die meeste soorte glas? Silika, wat weer die hoofbestanddeel van suiwer sand is.

Benodigdhede:

  • 3 tot 4 herwinde bottels
  • Sneldroënde silwer spuitverf met n lakbasis
  • Swart, wit en rooi permanente ink- of verfpenne
  • Kwaste

So maak mens:

  1. Versamel al jou materiaal voordat jy begin. Was al die bottels deeglik met warm seepwater en verwyder alle etikette. Spoel behoorlik uit en laat die bottels 30 minute droogword. Maak seker dat die glasbottels droog is voordat jy na die volgende stap oorgaan.

Wenk: Was jou hande ook deeglik met warm seepwater sodat die natuurlike olies van jou vel nie op die glas oorgedra word nie. Dit sal verhoed dat die verf aan die bottel kleef.

  1. Plaas bottels kop onderstebo op ’n stuk papier op ’n plat oppervlak om droog te word.
  2. Vir die projek het ek besluit op ’n silwerkleurige spuitverf wat geskik is vir glas en keramiek. Volg altyd die vervaardiger se aanwysings op die bottel spuitverf. Hou die spuitkan ten minste een meter van die bottel en spuit dan die bottels egalig van bo na onder totdat die hele bottel bedek is.

Wenk: As jy ‘n klomp lugborrels opmerk wat nie afdrup nie, rig dan die spuitverf se prop na onder (begin bo) en spuit. Dit sal die lugborrels na onder druk, waar dit makliker sal afdrup.

Nadat die eerste laag aangebring is, moet jy kyk of jy enige plek gemis het. As dit so is, spuit dit oor en wys afwaarts, sodat die oortollige verf afdrup soos dit droog word.

  1. Plaas die gespuite bottels op ‘n droë plek en laat die spuitverf oornag droog word.

(Foto: Verskaf)

  1. Nou kom die kreatiewe deel. Besluit oor die ontwerpe en begin jou patrone op die bottels te teken deur gebruik te maak van permanente ink- of verfpenne.
  2. Indien jy nog nooit gekrabbel het nie, volg my maklike instruksies aan die einde van die artikel.
  3. Vir ’n sterk kontras op die silwer agtergrond gebruik ek swart, wit en rooi ink- of verfpenne. Ek het in die middel met my fokuspunt begin en reg rondom die bottel gewerk. Laat dit minstens 30 minute staan vir die ink om droog te word.

(Foto: Verskaf)

  1. Plaas blomme van eie keuse in die bottelblompotte en verras jou moeder op Moedersdag met ’n herwinbare handgemaakte geskenk.

Nota: Om dit verder te verpersoonlik, kan jy jou eie boodskappie ook by skryf.

(Foto: Verskaf)

Voorbeeld van ’n maklike herhalende patroon. (Foto: Verskaf)

Doodling beteken oorspronklik om te skets of te krabbel. Oor die algemeen is krabbel ‘n aktiwiteit wat mense onwetend doen as hulle nie aandag kan gee aan iets anders nie. Jy sit byvoorbeeld verveeld in ‘n vergadering. Dan begin jy verskillende vorms en patrone op die papier krap. Dit is ‘n doodle. Dit is die rede waarom doodles eenvoudige lukraak sketse met abstrakte vorms is.

Om so te krabbel is heerlik “verslawend” en hou mens vasgenael terwyl dit jou geheue verbeter, jou help ontspan en jou kreatiwiteit ontsluit. Vorme en lyne is die siel van doodling. Al die gekrabbel lyk beter as dit in geheel beskou en kleur bygevoeg word.

  • Maak seker julle loer weer in by “So maak mens” gedurende die winter van 2021 waar ons met herhalende patrone op ’n groot bisque-keramiekbord ’n wintertema gaan doen. (Bisque of bisk is ongeglasuurde erdewerk)
  • Besoek Cay Momberg se Facebook-blad vir nog projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Hoe aaklig… en Moeder moet al die H’s doen. Nee wat, hou jul moedersdag-geskenke en kuiers. Moeders wil vlug want al die onthaal en kook en opwas word haar taak. Ons is so lief vir mammie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.