Hael, donderweer verwag in Oos-Kaap

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Vrydag ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir swaar reën- en donderbuie asook moontlike hael in die suidwestelike en noordelike dele van die Oos-Kaap.

Die weerdiens het inwoners ook gewaarsku teen skadelike winde en moontlike oorstromings van paaie, brûe en nedersettings. “Motoriste moet veral versigtig wees wanneer hulle in hierdie weerstoestande bestuur,” het die weerdiens in sy waarskuwing gesê.

Eskom het inwoners van die plaaslike munisipaliteite Buffalo City, die Groot Kei, Amahlathi, Raymond Mhlaba, Ngqushwa, Mbashe en King Sabatha Dalindyebo gewaarsku teen kragonderbrekings weens die stormweer.

“Kragverbruikers kan sonder krag sit weens die stormweer wat die kragnetwerk beïnvloed. Ons versoek almal se geduld in die saak,” het Eskom gesê.

In die res van die provinsie sal dit na verwagting koel en gedeeltelik bewolk wees met verspreide buie en donderbuie wat plek-plek uitsak.

Die suidelike dele van Gauteng en Mpumalanga, westelike dele van Noordwes, verre oostelike dele in die Vrystaat en Noord-Kaap, dele in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap kan enkele buie en -donderbuie teen Vrydagmiddag verwag. Die buie kan na verwagting oor die naweek voortduur.

Die weerdiens voorspel mooi en warm weer vir die res van die land.

Maroela Media het vandeesweek berig dat inwoners van die noordoostelike dele nog reën tot in Julie kan verwag. Volgens die weerdiens se seisoenale voorspelling sal die La Niña-weerstelsel, wat verantwoordelik is vir baie reën, regdeur die middelherfs en vroeë winterseisoen heers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.