Ons Winkels maak skoonmaak maklik

Marné du Plessis, bemarkingsbestuurder van Helpende Hand se Ons Winkels, deel nuttige wenke om die lenteskoonmaak makliker te maak. (Foto verskaf)

Dis heerlike lente en weer tyd vir regpak, wegpak, organiseer en dan sommer terselfdertyd ondersteuning bied.

September is die aanbreek van die lente en daarmee saam is dit ook tyd vir die groot lente-skoonmaakproses oftewel “spring cleaning”.

Is jy oorval met vol kaste, ʼn oorvol spens of motorhuis? Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels sal jou ongewenste items graag wil hê. Die regpak- en wegpakproses is egter die wegspringplek.

Hier is ʼn paar nuttige wenke wat jou in die regte rigting kan help:

Jou klerekas is eerste. Sorteer die klere in drie kategorieë: hou, bêre en skenk. Die klere wat jy nie meer wil hê nie, kan jy skenk. Die klere kan bloot in swartsakke gepak word en by jou naaste Ons Winkel geskenk word. Bêre die klere wat jy wil hou in geweefde plastieksakke met ʼn ritssluiter. Dit is ʼn wonderlike manier om jou winterklere weg te bêre. Hierdie sakke kan by PEP-winkels gekoop word. Verpak jou winteritems in hierdie sakke en merk die sak met ʼn kleur lint van jou keuse of maak gebruik van ʼn wit plakker waarop jy kan skryf om die sak te merk.

Jou spens is volgende. ʼn Spens kan netjies georganiseer word as jy dalk gebruik maak van plastiek- of glashouers om onnodige kartonbokse te vermy. In jou spens sal jy heel moontlik ʼn verskeidenheid van kombuisware hou waarvan jy nie meer gebruik maak nie. As dit stof opgaar en jy dit nie meer gebruik nie, skenk dit aan jou naaste Ons Winkel. ʼn Goeie idee as jy oor die jare al te veel oondbakke bymekaargemaak het, is om ʼn gereg in die bak te maak wat jy nie meer wil hê nie en dit vir ʼn vriend of vriendin te gee. Vra vir die vriend of vriendin om weer vir ʼn volgende gesin of vriendin ʼn gereg daarin te maak en so sal die breekware by die regte persoon beland.

ʼn Linnekas kan ʼn groot kopseer wees, veral as verskillende stelle deurmekaar raak. ʼn Slim idee om kop te hou van verskillende stelle is om, nadat die stel lakens en slope gewas is, dit netjies op te vou en in een van die kussingslope te bêre – so maklik soos dit. Só is die hele stel dan netjies bymekaar en gereed vir gebruik.

Die motorhuis kan vinnig ontaard in ʼn oorvol pakplek. Om dit te vermy, maak gebruik van rakke waarop jy kratte kan pak om items in te stoor. Merk die kratte ook met ʼn wit plakker waarop jy kan skryf of merk op die rak met ʼn plakker waar die krat gaan staan. Die items wat in jou pad staan of wat jy nie meer gebruik nie, kan ook aan jou naaste Ons Winkel geskenk word.

Deur hierdie items wat jy nie meer gebruik nie aan Helpende Hand se Ons Winkels te skenk, ondersteun jy jou gemeenskap en help jy só om daaraan te bou. Jy maak ʼn bydrae aan ʼn toekoms vir ʼn student wat graag wil studeer, maar dit nie kan bekostig nie. Helpende Hand bied aan dié studente rentevrye studielenings om deur tersiêre onderrig verryk te word en makliker ʼn werk te kry. As hulle begin werk, kan hulle die lening terug begin betaal wat dan weer gebruik gaan word vir ʼn ander hulpbehoewende student se studie.

Jy maak ook ʼn bydrae in jou gemeenskap om maatskaplike kwessies in die lewens van kinders, mense met gestremdhede, gesinne en bejaardes te verlig. Die items wat jy skenk, is nie net items nie, dit skep ʼn toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.