Kom luister weer hier saam na Maroela Media se reekse

Foto ter illustrasie. (Foto: Kelvin Lutan/Unsplash)

Hetsy jy in die oggendverkeer op pad werk toe sit, of besig is om huis skoon te maak, ʼn podsending kom handig te pas om die verveeldheid hok te slaan. En, boonop leer jy nog iets nuuts daarby.

Maroela Media het verskeie podsendingreekse in 2023 uitgereik, en indien jy een misgeloop het, kan jy gerus hier loer om op te vang.

Reeks oor Alzheimer se siekte

Maroela Media het ter viering van Alzheimer-bewusmakingsmaand in September met verskeie spesialiste, kenners en familielede wat deur dié lewensveranderende siektetoestand geraak is, gesels.

In hierdie reeks gesels ons met dr. Susan Coetzer, een van slegs 20 geriatriese spesialiste in die land; Welma Geldenhuys, senior maatskaplike werker by Alzheimer se siekte Suid-Afrika (Adasa) se Gautengse-tak; en Monica Koekemoer, programkoördineerder by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Die reeks word afgesluit deur ʼn hartroerende getuienis van dr. Lourens Venter en sy pa, Lou, oor sy ma, Anne-Marie Venter, se Alzheimer-diagnose en die impak wat dit op hulle as gesin se lewens gehad het.

In die reeks word daar uitgebrei oor hoe om vir ʼn persoon met Alzheimer se siekte te sorg, asook hoe om rooi vlaggies by die versorging van dié pasiënte te bespeur.

Luister na die reeks hier.

Alles oor die lief en leed van verhoudings

Maroela Media het vroeër vanjaar met Louis Venter, kliniese terapeut en stigter van Couples Help, oor die lief en leed van verhoudings gesels.

In dié twaalf-episode-reeks verken ons verskeie aspekte van verhoudings, liefde, en hoe om liefdesbootjies drywend te hou.

Foto ter illustrasie. (Foto: Scott Broome/Unsplash)

Temas en onderwerpe sluit onder meer in: huweliksberading, verbrokkelende huwelike, kinders in ʼn ongelukkige huwelik, langafstandverhoudings, saambly voor die huwelik, die liefdesvlam wat verdof, ʼn tweede kans op liefde, die aanpassing van kinders in ʼn verhouding, wat dit vat om ʼn verhouding te red, ontrouheid, goeie kommunikasie en liefdestale.

Luister na die reeks hier.

Wat is die Enneagram?

Venter het later in die jaar weer by Maroela Media ingeloer vir ʼn podsendingreeks oor die eeueoue persoonlikheidsmodel, die Enneagram.

Foto ter illustrasie. (Foto:
Josiah Gardner/Unsplash)

In die reeks vind ons uit wat presies die Enneagram is, en verken ons elkeen van die nege persoonlikheidstipes op die model. Indien jy jouself, jou motiewe en jou dryfkragte beter wil verstaan, is dit die reeks vir jou.

Luister na die reeks hier.

Alkohol en die misbruik daarvan

In dié Maroela Media-podsendingreeks gesels ons oor alkoholmisbruik met Willie Pienaar, wat meer as dertig jaar in die veld van verslawing gewerk het.

Dié reeks volg op die boek, Sober, wat vroeër vanjaar uit Pienaar se pen verskyn het en juis oor alkoholmisbruik handel.

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

In die reeks gesels ons oor hoeveel alkohol té veel is, ‘normale’ alkoholinname, verskillende konsepte wat met alkoholinname verband hou, vatbaarheid vir alkoholmisbruik, hoe dit jou brein en liggaam beïnvloed, en watter stigmas rondom alkoholmisbruik en verslawing bestaan.

Luister na die reeks hier.

Hou Maroela Media dop vir nog interessante podsendingreekse en skakel in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.