Luister in 3 minute: Grondverslag, nog ʼn staatsrede en pensioenfondse

Pres. Cyril Ramaphosa, dr. Vuyo Mahlathi, voorsitter van die paneel en adjunkpres. David Mabuza tydens die oorhandiging van die verslag. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, neem drie sakekwessies onder die loep wat vandeesweek opslae gemaak het.

Van Onselen bespreek die adviespaneel oor grondhervorming en landbou se finale verslag wat verlede week aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is. Alhoewel dié verslag nog nie aan die publiek beskikbaar gestel is nie, het Dan Kriek en Nic Serfontein, albei groot name in landbou en lede van die paneel, se misnoeë oor die finale verslag opskudding veroorsaak.

Kriek en Serfontein het glo hulle steun aan die paneel onttrek en ʼn minderheidsverslag voorgelê. Hulle beweer die finale verslag se aanbevelings sal rampspoedige gevolge vir die land inhou.

Van Onselen bespreek ook die gerugte dat Ramaphosa in Donderdag se staatsrede ʼn aankondiging sal doen oor pensioenfondse en hoe hierdie fondse die ekonomie moet help. Minister Ebrahim Patel het ook vroeër aan fondsbestuurders gesê hul rol in die ekonomie sal na die staatsrede duideliker word. Sakeliga meen dit is onheilspellend en ʼn stap om voorgeskrewe bates vir pensioenfondse in te stel, lyk na ʼn al groter moontlikheid soos wat die regering meer desperaat vir geld raak.

Hy bespreek ook Zimbabwe se verbruikersinflasiekoers wat byna ʼn 100%‑ jaar-tot-jaar in Mei bereik het.

Luister na ʼn volledige bespreking van hierdie kwessies in die jongste aflewering van 3 minute, 3 sake boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Margaret ·

Die glimlagte op daardie 3 se gesigte sê alles. Hoe kan jy n meerderheid laat besluit oor so iets? Asof hulle teen hulself sal besluit. ( groot oog rol)

MPN ·

`n Goeie vriend van my wat sy kinder jare in Holland deurgebring het, het hierdie Hollandse sêding saamgebring toe hulle terugkom; en dit ook seker `n bietjie verafrikaans: Hy’t gesê die Hollanders sê “Die se brood jy eet die se woord sal jy spreek”.
Die toentertydse regering – soos vandag s’n – het ook daarvan gehou om konsultante vir alles en wat aan te stel. En dit was vir my altyd so wonderbaarlik hoe die politici van daai tyd so slim was dat hulle feitllik deurgaans die konsultante se bevinding so mooi kon vooruitloop. `n Politikus is nou maar eenmaal net `n baie slim mens. Niks het verander nie.

Diefie ·

O genade tog. Mag die Vader gee dat daar ‘n ander oplossing kom. LOS ONS PENSIOEN FONDS UIT.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.