Luister: Kan geld geluk koop?

Albert van Wyk (Foto: Verskaf)

Albert van Wyk het op 10-jarige ouderdom sy eerste tree as entrepreneur gegee, en as 22-jarige het hy reeds sy eerste miljoen in die sak gehad. Tog kom hy uit ʼn doodgewone middelklashuis in Pretoria.

In sy jongste boek, getiteld How to buy your happiness, maak hy nou die kontroversiële stelling dat geld tog wel vir ʼn mens geluk kan koop.

Van Wyk het met Maroela Media hieroor gesels en verduidelik hoe hy glo geluk werk, asook hoe jy welvaart kan skep om meer van daardie geluk te “koop”.

“Ek het met my eerste boek, How to become a millionare at 22, die land plat gereis. By elke praatjie het ek mense ontmoet wat gevoel het hulle het ‘al die regte dinge’ in die lewe gedoen, maar hulle voel steeds ongelukkig en onvervuld.

“Uit my eie ondervinding het ek gevind ek is self gelukkiger as daar meer geld was want ek het meer vryheid gehad om te doen wat ek wil, wanneer ek wil. Ek kon dan my drome najaag. Wanneer daar ’n tekort aan geld was, was ek veel meer ongelukkig en het vasgevang gevoel.”

Van Wyk het meer navorsing oor hierdie onderwerp gaan doen, wat tot dié boek gelei het. Hy meen daar is ’n eenvoudige resep wat enige een kan volg om meer geluk te bekom.

“Daar is ’n eenvoudige formule in my boek wat sê: geluk is gelyk aan meer van dit wat jou gelukkig maak op ’n daaglikse basis en minder van dit wat jou ongelukkig maak op ’n daaglikse basis.

“Die idee is om dan geld te gebruik om vir jou tyd uit te koop om meer te doen van dit wat jou werklik gelukkig maak.”

Van Wyk glo as jy eers hierdie beginsel verstaan, sal dit jou motiveer om uit te vind wat jy kan doen om meer geld te maak. “Dit sal jou aanspoor om meer uit te vind oor entrepreneurskap en om meer uit te vind oor persoonlike finansies, asook welvaartskepping.”

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het reeds voor die Covid-19-pandemie gesteier en talle mense wonder hoe hulle ooit uit hulle eie finansiële verknorsing gaan styg, wat nog te praat van welvaart skep.

Van Wyk sê egter die grootste fout wat jy kan maak, is om die heeltyd te sit en wag vir ʼn perfekte oomblik voor jy jou reis na ekonomiese welvaart aanpak.

“Toe ek my eerste eiendom wou koop, het almal gewaarsku dit is ’n slegte besluit want die ekonomie het toe ook gesukkel. Met my tweede eiendom het almal gesê ek moet eers wag want ons geldeenheid het pas R2,00 teen die dollar verswak ná die minister van finansies afgedank is. Met die derde en vierde eiendom het almal gedink dit is steeds ’n slegte idee want die politiese omgewing is só onseker.

“Ek het my vyfde eiendom gekoop in die middel van die Covid-19-pandemie en ek maak geld met al my eiendomme terwyl ander mense nog vir die regte oomblik wag.”

Albert van Wyk spreek ‘n gehoor toe oor entrepreneurskap. (Foto: Verskaf)

Van Wyk meen met ’n wêreldpandemie wat steeds op hande is, kan dit juis nou die regte tyd wees vir ’n entrepreneur om ’n verskil te maak terwyl hy of sy ook geld maak.

“Ek sê altyd vir jong entrepreneurs wanneer die wêreld deur ’n moeilike tyd gaan, is dit die perfekte tyd om jou onderneming te begin want dinge beweeg en word ontwrig. Dit skep geleenthede. Jy moet ook dikwels jou eie geleenthede skep en dit eenvoudig vir jou maak werk.”

Van Wyk benadruk die belangrikste bestanddeel vir geluk is egter altyd om dit te doen waarvoor jy op die aarde geplaas is.

“Jy moet jou drome najaag; dit kan vir jou volhoubare geluk besorg en dit plaas jou op die reis na ’n betekenisvolle lewe.

“So vat die tyd om uit te vind wat dit is wat jou werklik gelukkig maak – soveel so dat jy wakker lê daaroor in die aande – en gaan vind dan uit hoeveel dit jou gaan kos om daardie droom te bewaarheid. Die volgende stap is om uit te vind wat jy kan doen om daardie geld te maak om jou droom na te volg.

“As ons almal dit kan doen, gaan ons ’n veel meer passievolle en impakvolle lewe leef.”

  • Besoek Albert van Wyk se webwerf vir meer inligting oor sy boeke en praatjies.
  • Albert van Wyk het ook in Maroela Media se ateljee kom kuier om te gesels oor sy jongste boek. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VaalDonkie ·

Jy weet ne, mense wat dink geld kan nie geluk koop nie, het nog nooit in ‘n Ferrari gery nie.

Stof ·

Die weelde van ‘n Uno wat ‘n leeftyd se getroue diens lewer vervul my met ‘n dankbaarheid vir ‘n nommerpas voertuig, wat saam met my kan werk en speel. Voorwaar rykdom, om so ‘n prima voertuig tot my diens te hê, sonder dat dit die bank s’n is.
Mag elke leser se ritte vandag, in die voertuig van sy keuse, gunsgevul wees.

Kiewiet ·

Die wereld het die plot verloor , klink eerder of hy hom self moet oortuig . Dit is maar n opervlakkige kunsmatige gekoopte geluk ,en maak sommer geld uit die idee ook nog . Daar is goeie studies in psigiatrie oor wat maak mens gelukkig. Vir party is dit n Ferrari en as die nicky sy skyn verloor ? Klaagliedere se nie verniet n kussing vol geld slaap swaar

ES ·

Kiewiet, ‘n Ferrari verloor nooit sy skyn nie. Terloops stel Albert nie voor dat jy geluk moet “koop” nie maar dat jy jou geld op so manier gebruik dat jy meer tyd kan maak vir dit wat jou gelukkig maak.

absoluutgatvol ·

Puik aanslag van die jongman en wens meer van ons land se mense kan dit begryp.

Eclectus ·

Geld koop nie geluk nie, maar dit betaal vir die illusie. Grappies op ‘n stokkie, ek stem 100% saam met hom. Ek was nog altyd van mening dat geld jou beweegruimte bied. In Amerika is 90% van miljoenêrs “gesigloos”. Baie mense het ryk geword deur nie geld na te jaag nie maar eerder dit wat vir hulle vervulling bring, en in die proses het die geld gevolg. Baie suksesvolle mense tree ook nooit af en doen niks nie, hulle geld stel hulle in staat om nog groter drome na te jaag.

Chris ·

Uiteindelik, iemand wat agter gekom het dat dit ‘n storie is. Geld is net ‘n betaalmiddel. Jy werk daarmee. Geld is nie die probleem nie. Geld is sielloos, gewetenloos. Die verbruiker is die probleem. Natuurlik kan geld geluk koop. Wat sal jou gelukkiger maak as jy die vreugde op mammie se gesig sien as jy vir haar ‘n karretjie koop. Of Kosie met ‘n nuwe fiets en sus met ‘n nuwe pop. Die mens is die probleem. Ek het al onder die argwaan van “rykes” deurgeloop. Ek het ook al werklike vriendskap van rykes ervaar. Dit is nie ‘n skande of vloek om ryk te wees nie. Dit is hoe jy as mens is. Hoe lekker droom ek nou :-)

ES ·

Ek is geneig om saam met Albert te stem. Het jy nou al mense in brandarmoede gesien wat gelukkig is? Ek het nog bitter min. Geld kan nie gesondheid of liefde koop nie, maar dit kan als anders koop.

Geld is ‘n ruilmiddel vir die dinge wat jou kan help om vervuld en gelukkig te wees. As jou persoonlike Uno of Citi Golf jou gelukkig maak, dan is dit goed so, maar ‘n Porsche of Lamborghini maak die volgende ou gelukkig – veral as daardie persoon hard gewerk het daarvoor. Ek het nog nooit ‘n ryk persoon gehoor wat die bewering maak dat geld nie geluk kan koop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.