Soorte resepte:

Verbruikersake: Bedrog op jou bord

Foto: Roberta Sorge/Unsplash

Verbruikers het nog iets om voor lig te loop: voedselbedrog. Sowat $50 miljard gaan jaarliks wêreldwyd verlore weens voedselbedrog. Boonop neem voedselbedrog toe wanneer die wêreld soos nou in ’n ekonomiese krisis is. Die meeste verbruikers weet nie mooi wat voedselbedrog nou eintlik is en wat mens daaraan kan doen nie. Ina Opperman het met Nicola Brook, direkteur van Foodpath, gesels om meer uit te vind oor voedselbedrog en wat daaraan gedoen word.

Die onlangse verwysing na voedselbedrog op Carte Blanche in ’n insetsel oor brood wat nie werklik glutenvry is nie, het verbruikers onlangs laat regop sit. Is dit wat voedselbedrog is? Weet mens dus nie regtig wat jy koop nie?

Wat is voedselbedrog?

Interpol en Europol definieer voedselbedrog as voedsel wat verkoop word met valse beskrywings of op ’n ander manier bedoel is om die verbruiker te mislei vir geldelike gewin. Voedselbedrog is die kollektiewe term vir die opsetlike en doelbewuste vervanging, byvoeging, knoeiery met of wanvoorstelling van voedsel, voedselbestanddele, voedselverpakking, etikettering, produkinligting of valse of misleidende verklarings wat oor ’n produk gemaak word vir ekonomiese wins wat ’n invloed kan hê op die verbruiker se gesondheid.

Waarom gebeur voedselbedrog?

Dit is bloot ’n manier vir die bedrieërs om geld te maak en is dieselfde as enige ander soort bedrog, sê Brook. Voedselverbruikers en soms ook voedselverwerkingsmaatskappye word bedrieg.

Die gevolge van voedselbedrog

Voedselbedrog lei tot ekonomiese verliese met direkte verliese wat toegeskryf kan word aan die koste om daarop te reageer en indirekte verliese, wat die gevolg is wanneer verbruikers en verwante bedrywe vergoed moet word. Dit kan ook lei tot handelsembargo’s van ander maatskappye en lande en die maatskappye se langtermynreputasie wat weens verkope wat afneem, benadeel word.

Soorte voedselbedrog

Voedselbedrog kan verskeie vorms aanneem:

  • Vervanging met ’n ander bestanddeel gebeur dikwels en sluit ’n wanvoorstelling in oor die geografiese, botaniese, variëteit of dierlike afkoms of ’n stof wat nie geskik is vir menslike gebruik nie;
  • Verdunning (wat op dieselfde manier as vervanging plaasvind);
  • Verswyging van bestanddele;
  • Namaaksels, waar voedsel of dele daarvan ’n bedrieglike voorkoms kry deur die byvoeging van stowwe wat verskil in hoeveelheid en gehalte. Dit gebeur ook wanneer namaaksels gemaak word van gewilde voedsel wat nie gemaak word met dieselfde versekering van voedselveiligheid nie;
  • Verbeterings wat nie goedgekeur is nie; en
  • Etikette wat wanvoorstellings is of verkeerde inligting bevat.

Voedsel waarmee die meeste bedrieg word

Voedselbedrog word met verskeie soort voedsel gepleeg, maar dit gebeur die meeste met duur voedsel, soos olyfolie, saffraan, vanielje, heuning en whiskey en ander drank.

Volgens ’n studie wat in 2013 in die VSA gedoen is, word voedselbedrog dikwels gepleeg met olyfolie, melk, heuning, saffraan, lemoensap en koffie. Nog ’n studie wat in 2016 deur die EU gedoen is, het gewys dat die volgende voedselsoorte in die bedrieërs se visier is:

  1. Olyfolie, wat gemeng is met ander olies;
  2. Vis, wat van ’n ander spesie of gehalte is en vis wat as vars verkoop word as dit eers gevries was;
  3. Organiese kos, wat nie werklik organies geproduseer is nie;
  4. Melk, wat nie geproduseer is op die plek wat op die etiket voorkom nie, melk wat nie volgens die korrekte soort gemerk is nie, melk wat verdun is of melk waarby melamien gevoeg is;
  5. Graankos, soos rys wat as Basmati gemerk is maar nie basmati is nie, pasta wat gemerk is dat dit met durum gemaak is, en geneties gemanipuleerde graan wat nie so gemerk is nie;
  6. Heuning waarby suiker gevoeg is of waarvan die herkoms bedrieglik aangedui word;
  7. Koffie en tee, waar robusta-koffie as arabica-koffie verkoop word of grassnysels as tee;
  8. Speserye, soos saffraan, of rissies wat gekleur is met onwettige kleurstowwe;
  9. Wyn waarvan die korrekte herkoms verswyg word; en
  10. Vrugtesap wat verdun word, maar verkoop word as 100% vrugtesap.

Dit gebeur ook dat meel bedrieglik as organiese meel verkoop word, eiers van ’n eierplaas as organiese eiers en perdevleis as beesvleis.

Verbruikersbeskerming

Verbruikers word beskerm teen voedselbedrog deur die Wet op Verbruikersbeskerming en die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels – daar was nog net ’n paar hofsake oor oortredings van laasgenoemde wet.

Verbruikers se regte

Verbruikers se regte word beskerm deur die Wet op Verbruikersbeskerming. Brook sê dit is egter in die eerste plek nie so maklik om voedselbedrog op te spoor nie. Die beste wat jy as verbruiker kan doen indien jy voedselbedrog vermoed, is om die produk terug te neem. Sy wys ook daarop dat die personeel by die winkels in die Carte Blanche-insetsel nie regtig geweet het waar die brode vandaan kom nie of wat glutenvry beteken nie.

“Net omdat iets van soja gemaak is, beteken dit nie dit is glutenvry nie.”

Wie polisieer voedselbedrog?

Die omgewingsgesondheidspraktisyns van die departement van gesondheid op munisipale vlak is hiervoor verantwoordelik, maar vir ernstige en professionele bedrog sal hulle die polisie se hulp inroep. Europa het byvoorbeeld spesiale taakspanne wat maande lank werk om ingewikkelde bedrog met voedsel hok te slaan. Kleiner handelaars is miskien nie eens daarvan bewus dat hulle verbruikers bedrieg nie en tree op uit onkunde, meen Brook.

Brook sê tegniese vaardighede is ’n groter kwessie as genoeg personeel om wetstoepassing te verseker. Van die toetse kan net by ’n paar laboratoriums uitgevoer word en monsters moet oorsee gestuur word teen groot onkoste terwyl die laboratorium bereid moet wees om die saak in die hof te bewys. Plaaslike laboratoriums is meer gerig op die toetsing van landbouprodukte wat uitgevoer word.

Hoe weet mens?

Volgens Brook sal die gewone verbruiker gewoonlik nie weet as voedselbedrog gepleeg is nie, aangesien die bedrieërs baie professioneel is en dit met groot moeite beplan en uitvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

SjN ·

Hoenders word groot gemaak in n hokkie en word verkoop as free range plaashoenders?

John ·

Die wet op verbruikersbeskerming gaan binnekort verdwyn ooreenkomstig die nuwe grondeienaars se regte op die bemarkings van hul produkte. Geen winkelgroep sal produkte weg kan wys wat bewysbaar onhigiènies is of wat ook al ongesond blyk nie. Daarvoor sal die regering sorg. Of ingevoerde produkte beperk gaan word, is ‘n ander saak. Oop markte sal moontlik hier begin waar die koper maar sy eie diskresie sal moet gebruik vir oorlewing… anders beland hy in die hoogs gesofistikeerde gesondheidsdienste se hande… ons sal mooi moet kies…

OWO ·

Die probleem in Suid-Afrika betreffende die onderwerp het sy oorsprong uit vele fasette.Die wetgewing wat van toepassing
is,is goed maar word nie toegepas nie agv bestuurstrukture wat sedert 1992 afgeskaf is.Voor 1992 was daar spesialiseringseksies wat die funksies van die Omgewings-
gesondheidspraktisyns goed bestuur het.Daar is bv beamptes wat net produk monsters geneem het en indien probleme ontstaan het, regsaksie sou neem indien nodig.Na 1992 is die spesialiserings funksies afgeskaf wat beteken dat die beamptes nou al die sleutelprestasie areas self moes hanteer wat hulle verswelg het in al die wetgewing,ordonansies en regulasies tot nadeel van die publiek.SA besit baie goeie wetgewing,maar kan nie met Europa vergelyk word in die toepassing daarvan nie.Chemiese monster neming en ontleding is ook baie duur en of die Staat nog geld daarvoor het of wil spandeer is ‘n opevraag.

WIEBO ·

Koekies wat deesdae baie kleiner is as gewoonlik, maar in dieselfde verpakking is, noem ek ook voedselbedrog.

Gerhard ·

Als word kleiner, maar duurder. Kwaliteit ‘n GROOT probleem in SA. Winkelrakke word ook oorstroom met swak kwaliteit produkte uit Oosterse en Midde-Ooste lande. Selfs bekende handelsmerke word nou “onder lisensie” in die buiteland gemaak. Kyk na die boksmelk, byvoorbeeld, wat jy gereeld koop…nie noodwendig in SA geproduseer nie, maar met ‘n plaaslike handelsmerk.

schaun ·

Ek dink hierdie tipe bedrog is algemeen in suid afrika en al word dit gepolisieer sal die nodige “koevertjie” die laaste sê hê, ondersteun ons boere,kry jou noodsaaklike kos soos groente,vleis,eiers direk by hulle en boikot produkte wat verdag voorkom soos ekstra virgin olyf olie direk van spanje teen R15.00 vir n 750 ml dit kan mos nie wees nie.

Linda Le roux ·

Ja netso veral heuning het ek al vir my man genoem dis nie heuning nie dit smaak soos stroop en wat dan van jou gesondheid. En asb se vir ons wat is die ware jakob met olyfolie en ware maak van heuning….Jammer al lankal my vertroue verloor in sekere produkte en dan betaal ons publiek bloedgeld vir nie die ware produk…dis n skande!!
jammer woorde nie oor

WL ·

Stem saam oor die heuning. Het juis verlede maand ‘n baie bekende handelsmerk se heuning gekoop, en ek en my vrou het saam gestem, jy kon duidelik proe dat dit nie 100% suiwer heuning is nie.

Willie ·

Nog n klassieke voorbeeld is “Namibiese hardehout”, wat waarskynlik sommer plaaslike swartwattel hout is, en dan boonop nog sopnat ook is.

Kosie Kramer ·

Coca-Cola het besluit om nie meer 500 ml botteltjies te maak nie, maar 440 ml. Tog, het die prys gestyg. Burgers, soos KFC en Macdonalds, is nou kleiner, maar word bemark as dieselfde.

Baie winkeltjies stal hulle koeldrank en hondekos en lekkers op die sypaadjie uit, waar die son dit erg verniel, maar hulle verwag jy moet betaal vir `n goeie produk. En baie koop dit.

Koos ·

Klink die woord “listeriose” nog bekend vir julle? Of wat van al die alkohol en ander bymiddels wat by ons petrol gegooi word – mens kan dit kwalik nog petrol noem dink ek. Perde/ donkie vleis wat as bees verkoop word, so kan ek aangaan oor die bedrog wat in ons beursies plaasvind.

KrokodilBotha ·

Grootste bedrog is ons regering. Gedrogte om elke draai en winkel.

Oom Walker ·

Groot hoeveelhede soya in die sogenaamde “100% suiwer beesvleis hamburgerpatties”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.