Soorte resepte:

Wenke vir ’n gesonder braai dié Braaidag

braai-erfenisBraaidag is om die draai en ons almal weet wat dit beteken! Skaaptjoppies, hoenderboudjies, knoffelbrood, braaibroodjies, ribbetjies en dalk selfs malvalekkers oor die vuur.

ʼn Nuwe (gratis) kookboek maak dit nou makliker om dié Braaidag gesonder te wees en beter na jou hart om te sien.

Braaigeregte is dikwels vetterig en hoog in cholesterol en met die toename van hartsiektes het Pharma Dynamics saam met die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika en die welbekende kookboekouteur Heleen Meyer met “gesonder” alternatiewe tot die gewone braairesepte vorendag gekom.

Dié kookboek, wat deel is vir Meyer se Cooking from the heart resepteboek-reeks, bevat 30 resepte wat voorsiening maak vir vleiseters én vegetariërs. Die resepte sluit gesonde, tuisgemaakte marinades, geurmiddels, peuselhappies, bykos, slaai, vegetariese geregte én nagereg in.

Wilmi Hudsonberg, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê hulle wou ʼn resepteboek, spesifiek vir braai-geleenthede, saamstel wat goed is vir jou hart omdat braai ʼn sosiale gebruik is wat alle Suid-Afrikaners geniet. Hulle wou ook aanhou bewusmaking skep vir kardiovaskulêre siektes wat elke dag 215 lewens in Suid-Afrika eis.

“Baie van die maaltye wat ons deel is met vriende en familie om die vuur, maar dít gaan dikwels hand aan hand met kos wat nie goed is vir ons harte nie. Ons mikpunt is om mense ʼn bietjie meer bewus te maak van die nutriënt-foute wat hulle maak wanneer hulle hierdie tradisie voortsit,” sê Hudsonberg.

Probeer dié wenke uit Cooking from the Heart se braai-uitgawe vir ʼn gesonder braai dié Braaidag:

  • Wees slim wanneer jy die proteïen vir jou braai kies. Kies maer vleis soos vis en hoenderborsies sonder vel in plaas van te veel rooivleis. Indien jy wél rooivleis kies, koop eerder lende- of sagte vleis en verwyder enige sigbare vet voor jy dit begin gaarmaak.
  • Marineer die vleis met soutvrye speserye en suurlemoen. Dit voeg wonderlike geur by en sal die soutinname verlaag. Gebruik eerder brandrissie, komyn, kaneel, swartpeper, paprika, tiemie en roosmaryn om vleis mee te geur.
  • Beperk jou vleisinname (van enige aard) tot 150 g per porsie.
  • Vul jou bord met geroosterde groente, slaai en bykos. Hoe meer kleur jy op jou bord het, hoe beter. In Suid-Afrika het ons ʼn verskeidenheid van vrugte reg deur die jaar, so maak seker om dit ook by jou braaispyskaart in te sluit. Vleis-en-groente-sosaties is altyd ʼn wenner. Voeg geel, groen en rooi soetrissies, sampioene, eiervrug, botterskorsie en murgpampoentjies by die sosatie en verf met ʼn gesonde olie voor jy dit braai.
  • Wanneer jy slaai of bykos voorberei, moenie teveel souterige sous byvoeg nie, maak eerder jou eie gesonde sous.
  • Kies volgraanbrood, -rolletjies en -wraps, eerder as wit stysel.
  • Oorweeg gesonde bestanddele om saam met jou roomys te eet, soos sjokolade-piesang of vrugteslaai. Geroosterde vrugte is ook heerlik! Die natuurlike suiker karamelliseer teen hoë hitte, wat dit ekstra soet en geurig maak.

Cooking from the Heart se braai-uitgawe kan hier gratis afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Judge Dredd ·

Dis maar goed julle gee die boek verniet weg – want dis blykbaar ‘n braai boek wat effens anti-vleis is. Of lees ek die berig verkeerd?

B ·

Kyk watter industrie is betrokke by die boek en dit sal jou vraag beantwoord.

(Ons kan ‘n hele gesprek begin oor navorsingsresultate ens, maar kom ons los dit maar daar vir eers, bv ; vet is ‘n essensiele nutrient, koolhidrate nie, maar vet moet afgensy word van die boonop maer vleis, maar volgraanbrood ens kry die groen lig? Daar is WEL sekere goeie inligting, maar die arme leek wat die tipe inligting vir soetkoek opeet.. Ek het ook my bedenkinge oor die H&S stigting se bydra tot ‘n gesonde leefstyl?)

Anne-Marie ·

Ek stem saam Judge…hoekom dan die moeite doen om dit ”braai”- dag te noem…die res wat hulle van praat is amper gaar of klaar gaar …braai beteken vleis braai….vleis is ‘n lekker tjoppie of steakie….met hoender as bygereg… dis braaivleis !!!!

Andre ·

Ons gooi deesdae n appel en n peer in foelie toegedraai saam met die ander groente in die kole . Lekker nagereg met roomys en vla ….

Frikkels ·

Hier is soveel goed in die berig waarmee ek nie saamstem nie. Neewat hou maar julle raad. Ek sal more nog steeds my VET steak, VET skaaptjop, boerewors, en braaibroodjie braai. Ek weet ek gaan my ete geniet, soos wat ek al vir jare doen!

HPV ·

Die wenke in ag geneem is dit tydmors om ‘n vuur aan te steek. Of die vetste skaaprib of niks. Eet hoender, vis en vark vir slaai.

M ·

Moet nie met die Afrikaner se geloof, dieet of grond lol nie, dan soek jy vir moelikheid.

Ditsem ·

Gmpf Gesonde braai? Die progresiewes kan ook niks goeds uitlos nie.Jou tyd is jou tyd en n vet tjoppie gaan jou nie vinniger dood maak nie . So gaan n komkommer jou nie laat langer lewe nie.

Ruben ·

Wie wil nou n hoender borsie braai…jy leer nie ons afrikaners braai…ons is braai…sterkte met jou boek by my huis sal hy net gebruik word om n vuur aan te steek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.