Proteas wen reeks op SuperSport Park

Rassie van der Dussen. Foto: GB Jordaan.

Aiden Markram is Vrydagaand weliswaar goedkoop uitgeknikker, maar Rassie van der Dussen en Reeza Hendricks het hul Wêreldbekerkanse geen skade aangedoen nie met ’n pragvennootskap van 116 om die tweede paaltjie.

Die twee het die pad geteer vir die Proteas se uiteindelike sege van 16 lopies op SuperSport Park. Sodoende het die Suid-Afrikaners ’n voorsprong van 2-0 in die reeks van drie T20-wedstryde teen die besoekende Sri Lanka opgebou.

Van der Dussen (64) was die aggressor en het drie keer die bal oor die grenstou geslaan. Hy het veral vir Tishara Perera (3-45-0) aangevat, terwyl Hendricks (65) vir Sri Lanka se draaiers uit die boulaanval geslaan het.

Hendricks het gereeld die dryfhou gebruik om die draaiers op die agtervoet te plaas, terwyl hy enige kort, wye aflewering na hartelus na die grens geslaan het.

Dié twee het kort na mekaar vertrek, maar JP Duminy (33 van 17 balle) het die Proteas se telling na 180/3 in hul toegelate 20 boulbeurte gelig.

Duminy – wat ook ná die Wêreldbeker uittree – was die kaptein in Faf du Plessis se plek.

Chris Morris en Reeza Hendricks vier ’n paaltjie. Foto: GB Jordaan.

Daarna het Dale Steyn (2/34) en Chris Morris (3/32) gereeld paaltjies gevat, terwyl Dwaine Pretorius (1/22) en ’n skitterende Tabraiz Shamsi (2/16) die lopiekrane stewig toegedraai het.

Isuru Udana – wat op nommer agt vir die besoekers gekolf het – het met sy onoorwonne 84 van net 48 aflewerings vir ’n paar opwindende oomblikke gesorg. Lutho Sipamla (0/42) het deurgeloop, maar Sri Lanka was nooit werklik op koers om dié een te wen nie.

Van der Dussen is as die speler van die wedstryd aangewys, maar dit was ’n goeie veelsydige vertoning deur die Proteas.

Suid-Afrika 180/3: Reeza Hendricks (65 van 46), Rassie van der Dussen (64 van 44), JP Duminy (33* van 17), Lasith Malinga (1/26)

Sri Lanka 164/9: Isuru Udana (84* van 48), Chris Morris (3/32), Tabraiz Shamsi (2/16), Dale Steyn (2/34

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Buite Stander ·

Moet sê, krieket in alle vorme en op alle vlakke raak nou erg vervelig. En die paviljoene bly maar leeg. Borge gaan ook belangstelling verloor in die sport. RA help ook nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.