13de Bergrivier-titel vir Hank McGregor

Hank McGregor (Foto: Gameplan Media/Bergrivier-kanomarathon)

Hank McGregor het die naweek sy 13de oorwinning in die Bergrivier-kanomarathon behaal.

Die 45-jarige McGregor het die uitmergelende 240 km oor vier skofte van die Paarl tot by Velddrif in ʼn tyd van 17:10:16 voltooi.

McGregor het op die laaste nippertjie vir vanjaar se marathon ingeskryf en het tydens die eerste skof in die voorste groep van vier geëindig. Ná ʼn moeilike begin tydens die tweede skof en ná ʼn reeks foute het McGregor teruggeveg om voor te loop tydens die derde skof.

Tydens Saterdag se laaste skof het McGregor oor die laaste 10 km weggebreek om sy voorsprong te vergroot. Jeremy Maher was tweede, terwyl Tom Lovemore derde oor die wenstreep geroei het.

“Dit is altyd wonderlik om aan die einde te kom en natuurlik is dit altyd iets besonders om te wen,” het McGregor gesê. “Wen nommer 13 vir my … ek het nooit gedink ek sou soveel kere wen nie.”

McGregor het die Bergrivier-kanomarathon in 2000, toe hy net 22 jaar oud was, vir die eerste keer gewen en was van 2005 tot 2012 onoorwonne met agt agtereenvolgende oorwinnings.

Die 21-jarige Christy Shrimpton het in die vroue-afdeling oorheers en oor al vier skofte die voortou geneem. Sy het die marathon in ʼn tyd van 20:36:07 voltooi. Die driemalige wenner Bianca Beavitt was tweede nadat sy sowat ʼn halfuur later die eindstreep oorgesteek het, gevolg deur Ansune Basson ʼn uur later.

Finale uitslae:

Mans

1. Hank McGregor 17:10:16 (4:12:18, 3:13:53, 5:23:11, 4:20:52)

2. Jeremy Maher 17:12:52 (4:12:15, 3:16:13, 5:23:10, 4:21:11)

3. Tom Lovemore 17:14:12 (4:12:17, 3:16:12, 5:23:10, 4:22:32)

Vroue

1. Christy Shrimpton 20:36:07 (4:53:12, 4:00:46, 6:12:25, 5:29:43)

2. Bianca Beavitt 21:07:10 (5:03:01, 4:04:06, 6:23:20, 5:36:41)

3. Ansune Basson 22:17:28 (5:08:29, 4:32:55, 6:50:03, 5:45:59)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.