19-jarige oud-Garsie een van EFC se blinkste sterre

Cameron Saaiman se arm word Saterdagaand omhoog gehou. Foto: Verskaf.

Cameron Saaiman een van die blinkste sterre op die Extreme Fighting Championship (EFC) se gevegsrooster. Dié oudleerling van Hoërskool Garsfontein in Pretoria het juis Saterdagaand by EFC84 ’n prestasiebonus gekry toe hy Zwelebanzi Ngema in sy spore gestuit het.

Saaiman het die geveg in die tweede ronde te danke aan ’n tegniese uitklophou gewen.

“Ek het ná skool besluit om ’n voltydse atleet te word en ek het al my aandag op my hokgeveg-loopbaan gevestig. Terselfdertyd is ek ook aan die stuur van ’n aanlyn program wat vir kinders leer hoe om hulself te verdedig en vir hulle die basiese tegnieke van verskeie dissiplines te wys,” het hy aan Maroela Media gesê.

Hy vertel dat sy liefde vir die sport as 12-jarige begin het, toe hy grootoog die aksie gevolg het.

“My pa het vir Carnival City gewerk en al die professionele gemengde gevegskuns-tweestryde is daar aangebied. Ek was een aand daar toe dit aangebied is en ek was onmiddellik mal daaroor. Ek het kort daarna begin oefen – eers skopboks en toe die ander dissiplines. Vandag kan ek werklik aan geen ander sportsoort dink wat ek graag sal wil beoefen nie.”

Saaiman en sy span oefen tussen twee en vyf uur per dag en hierdie sessies sluit onder meer krag-, tegniek- en strekwerk in.

Saam met sy afrigterspan. Foto: Verskaf.

Die persoon wat hy in dié sportsoort bewonder is ongetwyfeld die EFC se middelgewigkampioen, Dricus “Stillknocks” du Plessis.

“Ek oefen al ’n hele paar jaar saam met hom en hy sorg dat ek daagliks iets nuuts leer. Morné Visser (afrigter) speel ook ’n groot rol in my loopbaan.”

Op 19 het Saaiman beslis tyd aan sy kant en hy droom groot.

“Ek sal graag oorsee wil gaan veg. Ek is baie trots om die EFC te verteenwoordig, maar ek glo dit is nog net die begin. Ek droom daarvan om een van die beste vegters, of dalk selfs dié beste vegter, in my gewigsklas te wees.”

Tog is hy eerste om te erken dat hy steeds op sy senuwees raak voor ’n geveg.

“Dit is iets wat voor elke geveg gebeur en ek dink glad nie dit is ’n slegte ding nie. ʼn Mens moet spanning kan hanteer en steeds jou beste lewer op die aand.”

Maar het hy dan al ’n boelie laat les opsê?

Saaiman het ’n prestasiebonus vir sy spogoorwinning verdien. Foto: Verskaf.

“Nee! Ek het nog nooit nie en ek sal ook nooit buite die hok wil amok maak nie. Nie toe ek nog op skool was of noudat ek uit die skool is nie.”

Met Covid-19 wat tans sportmanne en -vroue kwaai beïnvloed, bly hy steeds positief oor sy voorbereidingswerk.

“Ek glo nie dit sal ’n negatiewe impak op my oefening hê nie. Ons het die regte voorsorgmaatreëls getref om te sorg dat ons steeds daagliks kan oefen, sommer in die agtertuin as ons nie in die gimnasium kan werk nie.”

Dat Cameron Saaiman ’n EFC-superster in wording is, is glad nie nonsens praat nie. Hy doen immers al sy praatwerk in die arena.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiewiet ·

Nou wat bewys die manne nou eintlik wat so n babaarse “sport” be-oefen? Ag nee man, gaan speel eerder golf as jy wil geld maak uit sport.

isabelle ·

ek dink dis n talent -almal sien uit n ander oogpunt
eerlik dink ek nie dat dit jou n slegte mens maak nie as jy in die ring wil klim GO AHEAD jou keuse
MAAR moet nou nie in n bar in stap en dink jy is nekkie van die plekkie nie wees nederig MAG HY WEL VAAR IN DIE SPORT

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.