Amper 50 Grand Slam-titels saam op een vliegtuig

Rafaen Nadal en Novak Djokovic. (Foto: X/Novak Djokovic)

Novak Djokovic en Rafael Nadal het al amper 60 keer in hul roemryke tennisloopbane rakette gekruis, maar hulle was seker nog nie te gereeld op dieselfde vlug op pad na dieselfde toernooi nie.

Djokovic het vroeër die week ʼn foto van homself saam met Nadal op koers na die Indian Wells-toernooi in Kalifornië gedeel.

“Goeie geselskap op die vlug na die VSA,” het die wenner van 24 Grand Slam-titels op sosiale media gedeel.

Die 36-jarige Serwiër spog met vyf Indian Wells-titels, maar die VSA se Covid-19-regulasies het die afgelope paar jaar ʼn stokkie voor sy deelname gesteek.

Die Withuis het egter verlede jaar die land se inentingregulasies verslap en Djokovic kon weer by die Amerikaanse Ope in New York afslaan.

Die komende aksie sal egter sy eerste proesel van Indian Wells-aksie sedert 2019 wees.

Nadal behoort ook oorgehaal wees om in die VSA af te slaan.

Die Spaanse tennisster, wat vanjaar sy 38ste verjaardag vier, het die meeste van die groot toernooie in 2023 misgeloop nadat ʼn heupbesering en -operasie hom langs die baan gehou het.

Sy aanvanklike terugkeer vroeër die maand is deur nóg ʼn besering kortgeknip.

Nadal het in die kwarteindstryd van die Brisbane International-toernooi mediese behandeling ontvang. Die wenner van 22 Grand Slam-titels het toe ongemak in sy linkerbobeen ervaar en hy het later bevestig dat hy ʼn baie klein skeur in ʼn spier opgedoen het.

“In my laaste wedstryd in Brisbane het ek ʼn klein spierprobleem gehad en ek was natuurlik bekommerd,” het hy op X (voorheen Twitter) gedeel.

Van die ander groot sterre wat in Kalifornië gaan speel is Carlos Alcaraz, Andrey Rublev, Casper Ruud en Jannik Sinner.

Suid-Afrika se Kevin Anderson se naam staan ook op die amptelike deelnamelys.

Die toernooi word van 6-17 Maart beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.