Aussies te sterk vir Proteas op netbalbaan

Australië het die eerste netbalwedstryd teen Suid-Afrika met 62 – 43 in Cairns gewen. (Foto: Twitter/Australia Diamonds)

Die Proteas het die eerste wedstryd in die netbalreeks teen die Australiese Diamante met 62 – 43 in Cairns verloor.

Die Suid-Afrikaners kon nog nooit ʼn netbalwedstryd teen die Aussies wen nie en as ʼn mens na vandag se vertoning kyk, gaan dit nog ʼn rukkie wees voordat hulle dié prestasie van hul wenslysie kan haal.

Ine-Marí Venter was weliswaar verantwoordelik vir die eerste doel van die kragmeting, maar daarna was dit amper eenrigtingverkeer soos wat die tuisspanspelers hul stempel op die spel afgedruk het.

Die Aussie-verdediging het die Protea-aanvalle gefnuik, terwyl Sophie Garbin en kie goed in die doelsirkel vertoon het.

Daar was natuurlik ʼn paar goeie Protea-oomblikke, terwyl die tuisspan ook foute gemaak het, maar ʼn oorwinning met 19 doele dui daarop dat die Australiërs dinge net te maklik op die baan gevind het.

Tog het afrigter Norma Plummer in die aanloop tot die kragmeting gesê dat die Suid-Afrikaners se veerkragtigheid haar die meeste beïndruk, terwyl die span ook al vantevore – onthou dáái Wêreldbeker-wedstryd teen Nieu-Seeland – gewys het dat hy met die wêreld se bestes kan saamgesels.

Australië het net vandag hopeloos te veel skietgoed gehad.

  • Telling ná elke kwart:

Eerste kwart: 17 – 9 vir Australië

Tweede kwart: 31 – 21 vir Australië

Derde kwart: 46 – 32 vir Australië

Vierde kwart: 62 – 43 vir Australië

Protea-toergroep: Khanyisa Chawane, Boitumelo Mahloko, Kamogelo Maseko, Phumza Maweni, Bongi Msomi (kaptein), Rolene Streutker, Refiloe Nketsa, Karla Pretorius, Lefébre Rademan, Jeanté Strydom, Nicola Smith, Jamie van Wyk, Elmeré van der Berg, Ine-Marí Venter en Nicholé Taljaard.

Komende bepalings:

Die Suid-Afrikaners speel nog twee wedstryde (29 Oktober om 07:00 en 31 Oktober om 10:30) teen Australië en al twee kragmetings sal in Hobart beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.