Aussies trots op hul netbaldiamante

Australië se seëvierende netbalspan. (Foto: Twitter/Diamonds Netball)

“Wanneer jy vir die Diamonds speel, is jy maar tog te bewus van die feit dat mense van jou verwag om suksesvol te wees.”

Só sê Liz Ellis nadat Australië die afgelope naweek vir Engeland met 61 – 45 in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in Kaapstad geklop het.

Dit was die Aussies se 12de Wêreldbekertriomf en die grootste eindstrydsege van die afgelope 28 jaar.

Boonop was dit ook soete weerwraak vir die Diamonds – Engeland het hulle immers met 56 – 55 in die groepfase van die toernooi geklop.

Volgens die 50-jarige Ellis, wat die Aussies in 122 wedstryde verteenwoordig het, is die span al daaraan gewoond om staande in drukkokersituasies te bly.

“ʼn Speler is altyd onder druk wanneer sy vir Australië speel, maar dit is ʼn goeie ding omdat dit jou gereedmaak vir die druk wat met ʼn belangrike eindstryd gepaardgaan.”

Een van die grootste boustene van Australië se netbalsukses is die Super-netballiga; ʼn plaaslike netbaltoernooi waar van die wêreld se topspelers in aksie is.

Suid-Afrika se Karla Pretorius, wat vir die Sunshine Coast Lightning speel, het juis in ʼn vorige onderhoud met Maroela Media gesê dat dié reeks ʼn speler se vaardigheidsvlakke ʼn lekker hupstoot gee.

“Jy oefen en speel teen die wêreld se bestes en elke wedstryd word teen ’n baie hoë intensiteit gespeel. Mens kan nie anders as om ’n beter speler van die baan af te stap nie. Ek leer ongelooflik baie elke dag,” het Pretorius destyds gesê.

Lisa Alexander, voormalige Diamonds-afrigter, het met Ellis en Pretorius saamgestem.

“Diamonds is op ʼn kultuur van sukses gebou en daar word baie van die span verwag. Dit is tot ons voordeel dat ons spelers weekliks in die wêreld se voorste netbalkompetisies kan speel,” het Alexander gesê.

Sy glo egter dat die afgelope Wêreldbeker-skouspel die mededingendste toernooi nog was.

“Uganda het vir Suid-Afrika geklop – dit was ʼn groot uitslag. Terselfdertyd het Jamaika vir Nieu-Seeland in die bronsmedaljewedstryd getroef; iets wat nog nie vantevore gebeur het nie.”

Finale Wêreldbeker-puntestand:

  1. Australië
  2. Engeland
  3. Jamaika
  4. Nieu-Seeland
  5. Uganda
  6. Suid-Afrika
  7. Malawi
  8. Tonga
  9. Wallis
  10. Skotland
  11. Fidji
  12. Trinidad en Tobago
  13. Zimbabwe
  14. Barbados
  15. Singapoer
  16. Sri Lanka.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

SA en Malawi moet uitspeel om te kyk wie is 2de beste in Afrika na Uganda. Ek het ‘n vermoede Malawi kan ons dalk nou klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.