Avontuurlustige Sinner eindig Djokovic se wenlopie

Jannik Sinner het vir Novak Djokovic in drie stelle in Turyn geklop. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

ʼn Teenstander kon uiteindelik weer vir Novak Djokovic op die tennisbaan uitoorlê.

Jannik Sinner het die wêreld se voorste speler by die ATP-eindronde in Turyn geklop. Dit was Djokovic se eerste nederlaag in 19 wedstryde.

Die tweestryd het langer as drie uur geduur en nie een van die spelers wou ʼn tree vir die ander terugstaan nie. Sinner het uiteindelik die wenhou in die beslissende valbylpot geslaan om die kragmeting met 7-5, 6-7 en 7-6 te beklink.

“Ek het beslis ʼn bietjie meer selfvertroue in sekere gedeeltes van ʼn wedstryde. Ek kon nou onverskrokke spel in die belangrike oomblikke van die kragmeting opdis – veral in die derde stel,” het die jong Italianer gesê.

Volgens Sinner was dit ʼn wedstryd van topgehalte.

“Ons het al twee baie goed afgeslaan en daar was nie veel houereekse nie, maar wanneer ons die bal kon terugslaan het ons dit met mening gedoen.”

Djokovic was ook beïndruk met Sinner se avontuurlustige benadering tot die kragmeting.

“Jannik het vir elke liewe punt geveg en ek dink dit was die uiteindelike verskil tussen ons. Ek was by tye nie aggressief genoeg op die baan nie en dit het vir hom die oorhand gegee,” het die 36-jarige Serwiër gesê.

Nodeloos om te sê is Sinner in sy noppies met sy vertoning.

“Dit beteken ongelooflik baie. Dit is een van die heel beste wedstryde van my loopbaan – ek het die wêreld se voorste speler geklop, iemand wat 24 Grand Slam-titels agter sy naam het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Skitterende Sinner, welgedaan!
Novak het reeds die jaareinde nommer 1 agter sy naam verseker, en dalk daai íéts gekort, maar ‘n welverdiende wen vir Sinner.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.