Banyana wag steeds vir eerste Wêreldbeker-sege

Banyana Banyana het met 2-elk teen Argentinië gelykop gespeel. (Foto: Twitter/Fifa World Cup)

Banyana Banyana was op koers vir ʼn eerste Wêreldbeker-triomf nadat die span ʼn voorsprong van 2 – 0 teen Argentinië in Dunedin opgebou het, maar Sophia Braun en Romina Nunez se doele het gesorg dat die hoopvlam binne ʼn oogwink uitgedoof is.

Die Suid-Afrikaners het die eerste doel van die kragmeting in die 30ste minuut aangeteken toe Linda Motlhalo die agterkant van die Argentynse doelhok gevind het. Ná rustyd het Thembi Kgatlana die voorsprong verdubbel en dinge het rooskleurig vir Desiree Ellis se span gelyk.

Maar Braun en Nunez het hul doele binne vyf minute van mekaar aangeteken om ʼn uitslag van 2-elk te bewerkstellig.

“Ons grootste probleem is dat ons nie ons geleenthede benut het nie. As ons dit wel gedoen het, sou ons waarskynlik nou ʼn ander gesprek gehad het,” het Ellis na afloop van die wedstryd gesê.

Die Banyana-afrigter is in haar noppies met die span se eerste punt op die punteleer, maar erken dat die moontlike drie punte baie soeter sou gesmaak het.

“Ons sal meer aandag aan die fynere detail van ʼn wedstryd moet gee. Ons het nou ʼn gulde geleentheid gehad om die kragmeting te beklink, maar ons het die uitslag weer eens net op ʼn skinkbord weggegee.”

Volgens Ellis sal die Suid-Afrikaners beslis aan hul besluitneming op die veld moet skaaf.

“Wanneer jy met jou afrondingswerk sukkel, eindig jy dikwels met só ʼn uitslag. Ons was in beheer van die wedstryd, ons moes net dinge buite hul bereik geplaas het.”

Kgatlana – wat as die speler van die wedstryd aangewys is – stem heelhartig met haar afrigter saam.

“Ons het die wedstryd in die sakkie gehad, maar toe staan ons twee maklike doele af. Dit is beslis iets waaraan ons moet werk; ons kan nie bekostig om konsentrasie te verloor nie.”

Doelskieters:

Banyana Banyana: Linda Motlhalo (30ste minuut) en Thembi Kgatlana (66ste minuut)

Argentinië: Sophia Braun (74ste minuut) en Romina Nunez (78ste minuut)

Groep G-punteleer:

  1. Swede: 3 punte ná een wedstryd
  2. Italië: 3 punte ná een wedstryd
  3. Suid-Afrika: 1 punt ná twee wedstryde
  4. Argentinië: 1 punt ná twee wedstryde

Komende wedstryd:

2 Augustus: Suid-Afrika teen Italië in Wellington

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.