Beamptes in swetsende, spoegende Kyrgios se visier

Australië se Nick Kyrgios. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Australië se Nick Kyrgios beskik oor die vermoë om met ongelooflike houe op ’n tennisbaan vorendag te kom.

Net gister het hy probeer om sy teenstander met ’n onderarm-tussendeur-die-bene-afslaan te flous. En al het hy Paul Jubb uiteindelik met 3-6, 6-1, 7-5, 6-7 en 7-5 gewen, het sy gedrag weer eens die hoofopskrifte van koerante gehaal.

’n Gryskop lynregter was onder meer in sy visier en hy het onderlangs gemompel dat “90-jariges nie meer die bal kan sien nie”.

Toe hy later daaroor uitgevra is, het hy aangevoer dat sy woorde buite konteks aangehaal is.

“Nee, ek het gesê dat die meeste van die skeidsregterspan ouerig is. Ek dink nie dit is ’n goeie idee in ’n sport waar daar so ’n klein marge tussen wen of verloor is nie. Ek het ’n bal geslaan en die ou man het gesê dit is buite spel, terwyl dit nie die geval was nie.  Argumentsonthalwe – as hy dalk 40 jaar oud was, sou hy moontlik nie só ’n beslissing gemaak het nie,” het Kyrgios gesê.

Hy het ook een van die beamptes as ’n fluitjieblaser en ’n leuenaar uitgekryt nadat sy glo by die hoofskeidsregter oor hom gaan kla het.

“Ek het niks eens gedoen nie en daar gaan praat sy met die skeidsregter oor iets wat ek nie gesê het nie. Dit is nou vir jou ’n fluitjieblaser van formaat.”

Nodeloos om te sê het die skare begin saamgesels en dit was net verdere olie op die vuur. Hy het later ook in die rigting van een van die lawaaimakers gespoeg.

“Die toeskouers het vandag ’n gebrek aan respek getoon. Ek het niks vir hulle gesê nie, maar my ore het elke keer getuit wanneer ek na ’n sekere kant van die baan stap. Dit is nie hoe dit moet wees nie.”

Joe Marler, die kleurvolle Engelse rugbyspeler, het ook ’n stuiwer in die armbeurs gegooi.

“As hy beledig was, het ’n mens begrip vir sy gedrag. Tog kan hy nie bekostig om vuur met vuur te beveg as hy wil hê die toeskouers moet hom respekteer nie,” het Marler gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Moedeloos ·

Het tennis nie tugkommittees wat sulke gedrag ondersoek en spelers aanpraat nie.

Wondermaarnet ·

Skors die arrogante mannetjie. Swak sportmanskap wat uitkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.