CrossFit Spele: Nuwe formule, dieselfde eindresultaat?

Mat Fraser in aksie. Foto: Twitter.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het gesorg dat die CrossFit Spele ook ’n splinternuwe baadjie moes aantrek: ’n Aanlyn kompetisie van sewe oefensessies het gister tot ’n einde gekom en die vyf beste mans en vroue sal nou na die volgende ronde van die Spele in Oktober aanbeweeg.

Maar waar die formule om die fiksste ter wêreld dalk verander het, lyk dit of die eindresultaat weer dieselfde gaan wees.

Australië se Tia-Clair Toomey. Foto: Twitter.

Australië se Tia-Clair Toomey is ongetwyfeld die gunsteling om die vroue-afdeling te wen, terwyl Amerika se Mat Fraser oudergewoonte die mansafdeling oorheers.

Toomey het twee van die oefensessies in die eerste plek afgesluit om 611 punte op te stapel; met net Ysland se Katrin Davidsdottir wat ook twee eerste plekke agter haar naam het.

Die groot verrassing is egter dat een van die gunstelinge, Ysland se Sara Sigmundsdottir, nie na die volgende ronde sal vorder nie.

Sy het ’n teleurstellende twee dae agter die blad en haar vertoning laat ʼn mens baie aan dié van die Protea-krieketspan dink: Wen alles vooraf, maar word lelik tydens groot toernooie ontspoor.

In die mansafdeling is Fraser goed op koers om met sy vyfde agtereenvolgende Spele-titel weg te stap. Hy het stof in sy teenstanders se oë geskop, en waar daar ’n paar vroue in Toomey se nek geblaas het, was Fraser in ’n klas van sy eie.

Hy is amper 200 punte vóór Noah Ohlsen op die punteleer en dit lyk nie asof die Fraser-wegholtrein Oktober in Kalifornië gestuit sal word nie.

Die volgende ronde sal op 19 Oktober in Kalifornië begin.

Mans top-tien (eerste vyf gaan deur na volgende ronde)

  1. Mat Fraser (VSA): 656 punte
  2. Noah Ohlsen (VSA): 488 punte
  3. Justin Medeiros (VSA): 480 punte
  4. Samuel Kwant (VSA): 449 punte
  5. Jeffrey Adler (Kanada): 420 punte
  6. Chandler Smith (VSA): 418 punte
  7. Jonne Koski (Finland): 410 punte
  8. Bjorgvin Karl Gudmundsson (Ysland): 406 punte
  9. Pat Vellner (Kanada): 405 punte
  10. Samuel Cournoyer (Kanada): 395 punte

Vroue top-tien (eerste vyf gaan deur na die volgende ronde):

  1. Tia-Clair Toomey (Australië): 611 punte
  2. Brooke Wells (VSA): 580 punte
  3. Haley Adams (VSA): 497 punte
  4. Katrin Davidsdottir (Ysland): 490 punte
  5. Kari Pearce (VSA): 451 punte
  6. Kristin Holte (Noorweë): 449 punte
  7. Kara Saunders (Australië): 448 punte
  8. Amanda Barnhart (VSA): 446 punte
  9. Kristi Eramo O’Connell (VSA): 402 punte
  10. Andrea Nisler (VSA): 394 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jax ·

Jig, sulke bultende spiere lyk nie mooi nie. Dis Baie afstootlik! By mans en vroue. Ek sal beslis nie so n mens as my lewensmaat kies nie. Jig!

Jeandre ·

Die spiere sal weg gaan met tyd, dit gan oor hoe fiks die mense is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.