Dakar 2023 – Suid-Afrikaanse motorfietsryers skitter

Kirsten Landman. Foto: Verskaf

Nasser Al-Attiyah het die Dakar 2023 gewen in ’n Toyota wat hier in Suid-Afrika gebou is. In die motorfietskategorie het die Argentyn Kevin Benavides op sy KTM geseëvier. Daar is egter een klas in die Dakar wat nie die hoofopskrifte haal nie, en dit is die “Original by Motul”‑klas. In hierdie klas was daar vanjaar drie Suid-Afrikaners: Charan Moore, Stuart Gregory, en die enigste vroulike deelnemer, Kirsten Landman.

Anders as die fabriekspanne, is hierdie klas vir motorfietsryers wat deelneem sonder enige bystand. Die persoon wat die Dakar met hulle meemaak, word net toegelaat om een krat met onderdele, een stel wiele en die slaapgeriewe saam te dra. Hierdie klas het voorheen bekend gestaan as die “Malle Moto”, maar word nou deur Motul ondersteun. Motul het ook ’n paar items verskaf om die lewe van die deelnemers gemakliker te maak by die oornagpunte.

Charan Moore het hierdie klas gewen. Dit was slegs sy tweede Dakar-tydren. Alhoewel hy ’n volle 20 minute voor sy naaste teenstander geëindig het, was die 2023-Dakar nie sonder sy teenspoed en uitdagings vir die Suid-Afrikaners nie. Moore en Landman het albei kwaai griep opgedoen en moes deurdruk, al het hulle hoe siek gevoel.

Charan Moore. Foto: Verskaf.

Moore se naaste teëstander was sy goeie vriend, die Spanjaard Javi Vega. Dié twee het verbete om die eerste plek geveg en tydens die tweede helfte van die ren het dit gelyk of dit neusie verby is vir Moore. Na meganiese probleme moes sy enjin vervang word en omdat daar geen hulp was nie, het hierdie oefening hom vyf ure gekos. Later het sy verkoeler ook moeilikheid gegee en dit het Vega die nuwe voorloper gemaak.

Op die voorlaaste trajek het Vega egter teëspoed opgetel en het Moore weer die voortou geneem. Die toestande was besonder moeilik op die laaste trajek na die vorige aand se swaar reën en hael. Moore het aanhou veg en nie net die Original by Motul‑klas gewen nie, maar ook algehele 28ste plek in die 2023‑Dakar ingeneem. Stuart Gregory het 9de geëindig met ’n algehele 61ste plek. Kirsten Landman was 12de in die klas, en algehele 74ste plek.

As jy op hoogte wil bly van al die Dakar‑gebeure waar Suid-Afrikaners betrokke is, sluit gerus aan by: https://www.facebook.com/sadakargroup.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

capie ·

Dankie Brain. Ek het gewonder of MM ooit daaroor sou berig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.