Djokovic marsjeer voort in Parys

Novak Djokovic vier nog ’n oorwinning op die harde bane van Parys. Foto: Twitter.

Novak Djokovic het sy 11de wedstryd op ʼn streep gewen toe hy met Rusland se Karen Khachanov afgereken het. Sodoende het hy vir die kwarteindstryd van die Parys-meesterstoernooi gekwalifiseer.

Die verdedigende kampioen was in ʼn veglustige bui en hy het die kragmeting in die Franse hoofstad met 6-4 en 6-1 beklink.

Hy het ook bitter lanklaas in hierdie toernooi die onderspit gedelf. Die 35-jarige speler was in 2018 laas aan die verloorkant toe die einste Khachanov hom in die eindstryd geklop het.

“Khachanov is iemand wat ek baie goed ken. Ons oefen gereeld saam en ons het al ʼn hele paar keer teen mekaar gespeel. Hy het my vier jaar gelede hier in die eindstryd geklop, dus weet ek dat hy van hierdie bane hou,” het Djokovic ná die afloop van die wedstryd gesê.

Volgens die voormalige wêreldno. 1-speler was die eerste stel ʼn gelykopstryd, voordat hy in die tiende pot na ʼn hoër rat oorgeskakel het. Daarna was dit eenrigtingverkeer.

“Ek het laat in die eerste stel goeie momentum opgebou en ek was ʼn ander speler in die tweede stel. Ek het beter gespeel en beter afgeslaan – ek is baie tevrede met die wyse waarop ek die kragmeting afgesluit het.”

Hy speel later vandag teen Italië se Lorenzo Musetti in een van die kwarteindstryde.

Uitslae:

Tommy Paul klop Pablo Carreno met 6-4 en 6-4

Stefanos Tsitsipas klop Corentin Moutet met 6-3 en 7-6

Novak Djokovic klop Karen Khachanov met 6-4 en 6-1

Felix Auger-Aliassime klop Gilles Simon met 6-1 en 6-3

Holger Rune klop Andrey Rublev met 6-4 en 7-5

Carlos Alcaraz klop Grigor Dimitrov met 6-1 en 6-3

Frances Tiafoe klop Alex de Minaur met 6-3 en 7-6

Lorenzo Musetti klop Casper Ruud met 4-6, 6-4 en 6-4

Vandag se aksie (kwarteindstryde):

Frances Tiafoe teen Felix Auger-Aliassime

Carlos Alcaraz teen Holger Rune

Novak Djokovic teen Lorenzo Musetti

Stefanos Tsitsipas teen Tommy Paul

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.