Djokovic skakel vir Federer uit

Novak Djokovic vier sy oorwinning. (AP Photo/Lee Jin-man)

Serwië se Novak Djokovic het vandag sy sesde agtereenvolgende wedstryd teen Roger Federer gewen, toe hy met 7-6, 6-4 en 6-3 in die Australiese Ope-halfeindstryd in Melbourne geseëvier het.

Die 38-jarige Federer het las van ’n liesbesering gehad en hy was waarskynlik stokflou ná sy epiese terugvegpoging teen Tennys Sandgren in die kwarteindstryd.

Die Switserse legende het egter soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek en vinnig ’n voorsprong van 4-1 in die eerste stel opgebou.

(AP Photo/Andy Wong)

Hy kon egter nie dié pas volhou nie en die jonger Djokovic het begin terugbaklei.

“Die wedstryd-pendulum kon werklik in enige rigting geswaai het. Roger het baie goed begin en ek was aanvanklik baie op my senuwees,” het Djokovic gesê.

“Gelukkig het ek ’n manier gekry om terug in die wedstryd te kom. Dit was baie belangrik om die eerste stel te wen en ek was daarna baie meer op my gemak.”

Die Serwiër het nou 27 van die 50 wedstryde tussen die twee supersterre gewen.

“Ek het net respek vir die wyse waarop Roger gespeel het. Dit was duidelik dat hy ongemak verduur het.”

Die 32-jarige sal Sondag poog om sy agtste Australiese titel te verower wanneer hy teen die wenner van die Dominic Thiem/Alexander Zverev-kragmeting te staan kom.

  • Thiem en Zverev speel môre om 10:30 op die Rod Laver-baan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.