Driekampatlete van wêreldgehalte gaan in Kaap baljaar

Die legendariese Tim Don. Foto: Facebook.

Swem, fietsry, draf.

Drie eenvoudige woorde, maar vir derduisende driekampatlete wêreldwyd het dit ’n baie dieper betekenis. Dié drie items beproef jou uithouvermoë en wilskrag tot die uiterste en net wanneer jy dink jy kan nie meer verder draf nie, is die eindstreep in sig!

Nou skud Kaapstad sy vere vir sy eerste middelafstand-driekampkompetisie (1.8 km swem, 90 km fietsry en 21.1 km hardloop) reg, wanneer die Challenge Cape Town hierdie Sondag in die Moederstad plaasvind.

En dit is nie net die room van die plaaslike atlete – soos Matt Trautman (wenner van die Challenge Almere-Amsterdam) en Bradley Weiss nie – maar ook van die voorste internasionale atlete.

Buiten die blitsige Spanjaard, Pablo Dapena Gonzalez, sal die Verenigde Koninkryk se legendariese Tim Don óók sy pad na die mooiste Kaap vind.

Die 41-jarige Don is ’n voormalige wêreldkampioen en Olimpiese atleet wat die harte van die internasionale driekampgemeenskap verower het toe hy in 2017 sy nek in ’n botsing met ’n motor in Hawaii gebreek het.

Hy moes vir drie maande met ’n halo-stut geleef het, maar hy het in 2018 sy terugkeer in die Boston-marathon gemaak. Hy het dié wedloop in ’n tyd van 2:49:42 ure voltooi.

“In die verlede het baie organiseerders al probeer om ’n só ’n kompetisie in die Kaap aan te bied. Dus is ek in die wolke dat ons dit uiteindelik doen!” het die resies-direkteur, Gary Marescia, gesê.

“Dit is ’n droom wat waar word om hierdie kompetisie aan te bied en dit is iets waarvoor die driekampgemeenskap in die Kaap al lank  gewag het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.