Du Plessis beweeg nader aan titelgeveg

Dricus du Plessis ná sy onlangse geveg in Las Vegas. Foto: Instagram.

Dricus du Plessis se UFC-rapport sorg vir indrukwekkende leesstof: Drie gevegte en drie goeie oorwinnings.

Hy het sy eerste twee seges met uitklophoue teen Markus Perez en Trevin Giles gevier, terwyl hy teen Brad Tavares gewys het dat hy ook ’n geveg danksy pure vasberadenheid kan wen.

Volgens die jongste UFC-ranglys tel Du Plessis onder die voorste 15 sterre in sy kategorie en groter gevegte wag beslis op die horison.

Die titeldroom is besig om stelselmatig ’n werklikheid te word.

“Die geveg teen Tavares was omtrent vir jou ’n slagveld, maar dit is hoe ek dit verkies. Ek wil my plek op die ranglys met harde werk verdien,” het Du Plessis gesê.

Hy het terselfdertyd elke Suid-Afrikaner vir die ondersteuning bedank.

“Dit is so ’n reusevoorreg om die land op die groot verhoog te verteenwoordig, en om te sien hoe mense bankvas agter my staan beteken ongelooflik baie.”

Volgens Du Plessis het hy kritici se monde met sy vertoning gesnoer.

“Baie mense het vir ons gelag toe ons gesê het dat ʼn Suid-Afrikaner onder die topgekeurde vegters sal tel. Hulle het almal aangevoer dat Dricus goed is, maar dat hy nie saam met die groot honde in sy kategorie sal kan blaf nie. Nou ja, wie lag nou die lekkerste?”

Oudergewoonte het hy beloof om harder as ooit te werk om sy droom te verwesenlik.

“Ek is baie tevrede met my posisie op die ranglys, maar ek sal eers behoorlik feesvier wanneer ek die kampioen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LIEZL ·

En is ek nou dom, maar van watter geveg word hier gepraat?
Praat van uitklophou, maar is dit nou boks wat sonder handskoene is? En praat mens net van geveg? Of hoe nou.? En watter ranglys is dit. Ag, ek is maar net nuuskierig

andre ·

Dricus is n MMA vegter, ons noem dit sommer n “cage fighter” hy is bekend as “Stillknocks”. Dis n mengelmoes van kickboxing, boks, stoei en oosterse gevegskuns, dit kan nogal wild raak in die hok. En maak geen fout nie, hy is n vegter van formaat.

LIEZL ·

dankie André, nou weet ek ‘n bietjie meer. Dink jy moes die artikel geskryf het, dis maar min inligting in die artikel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.