‘Fedal’ weer September saam op die baan

Rafael Nadal en Roger Federer saam op die baan. Foto: Michal Cizek/AFP.

In 2021 was daar gerugte dat Roger Federer en Rafael Nadal weer kragte by die Laver-beker sal saamsnoer.

Nou het die moontlikheid in ’n werklikheid verander: “Fedal” sal weer in aksie vir die Europese span by dié internasionale tennisskouspel in Londen wees.

Hoewel die 40-jarige Federer nie presies weet hoe lank sy kniebesering hom nog langs die baan sal hou nie, het hy gesê dat vanjaar se Laver-beker beslis deel van sy toekomsplanne is.

“Rafa is nie net ’n ongelooflike mens nie, maar terselfdertyd ook vir tennisliefhebbers wêreldwyd ’n inspirasie. Hy het ná verlede jaar se toernooi in Boston vir my ’n boodskap gestuur en gevra of ons dubbels in Londen sal speel. Ek is beslis gerat vir Fedal se terugkeer!” het Federer gesê.

Op sy beurt sien Nadal daarna uit om weer in dieselfde span as die Switserse meester te wees.

Die twee spelers het in 2017 kragte saamgesnoer toe die Europeërs met die louere in die 2017-weergawe van die Laver-beker weggestap het; om hulle weer saam op die tennisbaan in Engeland te sien, sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.

“Roger speel ’n baie belangrike rol in my tennisloopbaan; hy is een van my grootste teenstanders asook ’n wonderlike vriend. Om in dié stadium van ons loopbane weer saam dubbels te speel, sal ’n ongelooflike ervaring  vir ons al twee wees.”

Federer was die afgelope naweek onder die eerstes om vir die veglustige Spanjaard met sy 21ste Grand Slam-enkelspeltitel geluk te wens.

Nadal het in ’n merkwaardige Australiese Ope-eindstryd vir Daniil Medvedev met 2-6, 6-7, 6-4, 6-4 en 7-5 geklop om die voortou in die Grand Slam-driemanresies te neem.

“Dit is verstommend om te dink dat ons al twee net ’n paar maande gelede mekaar oor ons krukke geterg het. Wys jou net: ’n Mens moet nooit ’n groot kampioen onderskat nie,” het Federer gesê.

“Jou ongelooflike werketiek, toewyding en veggees is vir almal ’n voorbeeld.”

  • Die Laver-beker vind van 23 tot 25 September in Londen se O2-arena plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.