Federer weer terug op die baan

Roger Federer. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Roger Federer sal vir die eerste keer in meer as ’n jaar sy tennisraket in ’n mededingende wedstryd swaai.

Die 39-jarige Switserse ster sal sy terugkeer in die tweede ronde van die Katar Ope in Doha teen óf Jeremy Chardy óf Dan Evans te staan kom.

Federer was laas in die Australiese Ope van 2020 in aksie waar hy teen die uiteindelike wenner, Novak Djokovic, vasgeval het. Sedertdien het die wêreldwye Covid-19-pandemie en ’n paar knieoperasies hom langs die baan gehou.

Maar indien alles volgens plan in Doha verloop, kan hy teen die wêreld se no. 4-speler, Dominic Thiem, te staan kom.

Federer het intussen ’n video op sosiale media geplaas waarin hy onder meer oor sy opwinding en dankbaarheid praat om weer te speel.

“Dit was ’n lang en moeilike pad en ek weet dat ek nog nie by die eindstreep is nie, maar dinge gaan beter. Ek het goed vir die toernooi voorberei,” het hy gesê.

Volgens die tenniskalender kan Federer ook in die Franse Ope (17 Mei tot 6 Junie) en op Wimbledon (28 Junie tot 11 Julie) in aksie wees.

Maroela Media het verlede jaar berig dat Marion Bartoli – ’n voormalige Grand Slam-wenner – meen dat Wimbledon Federer se beste kans is om sy 21ste Grand Slam-titel te wen.

“Die grasbane pas sy manier van speel soos ’n handskoen en hy sal nie sommer daar rondgejaag word nie. As hy genoeg momentum en selfvertroue het, sal hy beslis wen,” het Bartoli gesê.

Intussen sal Novak Djokovic amptelik een van Federer se rekords in die komende week verbeter wanneer hy vir 311 weke van sy loopbaan die wêreld se voorste speler is. Die Serwiër het verlede week gelyk met Federer se rekord van 310 weke getrek.

Maar hierdie Federer-rekord gaan nie binnekort verbeter word nie: Hy was vir 237 agtereenvolgende weke die no. 1-speler. Daarteenoor was Djokovic se beste 122 agtereenvolgende weke – ’n rekord wat hy tussen 2014 en 2016 opgestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.