Fikse vriendskap gaan van krag tot krag

Daniel Griesel en Stephan Enslin. Foto: Verskaf.

Dit is ʼn jaar of wat later en Daniel Griesel en Stephan Enslin se fiksheidsvennootskap gaan ongetwyfeld van krag tot krag.

Maroela Media het destyds oor die twee Middelburgse skoolvriende berig wat hul betrekkings prysgegee het om hul droom na te jaag. En deesdae word daar gewigte opgetel, geroei en optrekke gedoen by Willow Way Fitness se Centurion- en Atterbury-tak.

Volgens Enslin was die grootste uitdaging doodeenvoudig net om die eerste tree te gee – dit is immers glad nie maklik om so ʼn groot kans te waag nie. ʼn Mens se studies en werksekerheid weeg sekerlik net so swaar soos die opwinding van ʼn nuwe avontuur, of hoe?

Maar vandag word daar glad nie in die truspieëltjie na die verlede teruggekyk nie. Hulle doen nou waarvoor hulle lief is – om ʼn verskil in ander se lewens te maak.

Saam met Estian Ferreira (Willow Way Fitness). Foto: Verskaf.

“Willow Way Fitness is ʼn trots Suid-Afrikaanse handelsmerk en ons is deeglik bewus van die uitdagings wat Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar. Juis daarom wil ons die tyd wat die lede in die klas bestee die beste uur van hul dag maak – hulle moet kan asemskep en sommer ook fikser word,” het Enslin gesê.

Die twee oudleerlinge van HTS Middelburg se sportprestasies het gereeld die hoofopskrifte van die plaaslike koerant gehaal. As die een nie ʼn reuse-ses geslaan het nie, dan het die ander met sy skrumskakel-vaardighede op die rugbyveld uitgeblink.

“Toe ons die pad saam met Willow Way begin stap het, het ek en Daniel ooreengekom dat ons onderskeid tussen ons vriendskap en die besigheidsdinge sal tref. Ons het daad by woord gevoeg en nou – ná amper twee jaar op ons reis as vennote – is ons steeds beste vriende.”

Moet ook nie dink hulle sit agteroor en kyk hoe die lede oefen nie, aikôna.

Hulle staan soggens net voor 04:00 op en maak gereed om toesig by die eerste oefensessie van die dag om 05:00 te hou.

“Ons bied tot 09:00 klasse aan, waarna ons iets sal eet en dan self ʼn bietjie oefen. Daarna is daar vergaderings en individuele sessies saam met lede wat graag aan hul gimnastiekbewegings of gewigteoptel-tegniek wil skaaf.”

Van 16:00 tot 18:00 is groepklasse weer aan die beurt en om 20:30 is hulle uiteindelik weer tuis om tyd saam met hul wederhelftes deur te bring.

Willow Way Fitness se Centurion-tak. Foto: Verskaf.

“Daar was al ʼn paar interessante situasies in die gimnasium waarvoor ons baie lekker saam met die lede gelag het, maar daar heers ʼn positiewe atmosfeer by Willow Way Fitness terwyl ons ʼn waardering vir mense het wat gereeld kom oefen. Ons weet hoe hard hulle werk om elke dag te verbeter.”

Sport is nou Daniel Griesel en Stephan Enslin se loopbaan en hulle sal saamstem dat hulle die lekkerste gedeelte daarvan doen: Om ʼn verskil daardeur in ander mense se lewens te maak.

“Ek dink ons is die trotsste op die samehorigheidsgevoel onder ons lede. Elke lid is vir ons belangrik en ons gee vir elke persoon om.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.