Fred moet nou Ferrari se vuur stook

Fred Vasseur is Ferrari se nuwe spanhoof. Foto: Jakub Porzycki/NurPhoto/AFP.

Dinge het so goed vir Ferrari in die aanloop tot vanjaar se F1-seisoen gelyk. Die renmotors was lekker vinnig en Charles Leclerc het onder meer gesorg dat die vonkelwynproppe in Bahrein en Melbourne geklap het.

Maar soos wat dinge gevorder het, het strategiese blapse, foute agter die stuur en die verkeerde stel bande gesorg dat hul momentumtrein lelik ontspoor het.

Leclerc moes magteloos toekyk hoe Max Verstappen met die wêreldtitel-louere wegjaag, terwyl die span tweede op die vervaardigerspunteleer geëindig het; 205 punte agter die vlieënde Red Bulls.

Mattia Binotto het verlede maand – ná ʼn Ferrari-loopbaan van amper 30 jaar – as spanhoof bedank en daar is omtrent vir jou kopgekrap om al die legkaartstukke betyds in plek vir die volgende seisoen te kry.

Nou het die motorvervaardiger aangekondig dat Fred Vasseur voortaan Binotto se skoene as spanhoof sal volstaan.

Die 54-jarige Fransman het egter gʼn maklike taak nie: Hy sal moet toesien dat Red Bull se vlerkies geknip word en dat die perd van Ferrari weer op die groot verhoog pronk.

“Ons is opgewonde om vir Fred Vasseur by Ferrari te verwelkom. Hy het deurgaans in sy loopbaan sy tegniese sterk punte as ʼn opgeleide ingenieur uitstekend gekombineer met sy vermoë om die beste eienskappe van sy renjaers na vore te bring,” het Benedetto Vigna, Ferrari se uitvoerende hoof, gesê.

Vasseur het vanjaar onder meer vir Alfa Romeo na die sesde plek op die vervaardigerspunteleer gelei – hul beste vertoning nóg, terwyl hy ook al aan die stuur van sake by Renault was.

Daarbenewens het hy ook ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van F1-sterre soos Nico Rosberg en Lewis Hamilton gespeel.

“Dit is vir my ʼn groot eer om die leierskapleisels as spanhoof by Ferrari vas te vat. As iemand wat nog altyd ʼn groot passie vir motorsport gehad het, is Ferrari vir my die toppunt van die F1-berg. Ek sien daarna uit om saam met die talentvolle span te werk en om Ferrari se merkwaardige geskiedenis en erfenis te respekteer,” het Vasseur gesê.

  • Die eerste wedren van die 2023-seisoen is op 5 Maart in Bahrein.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janine ·

Dankie tog! Ons wens al baie lank dat Mattia Binotto sy goed vat en loop! En ek hoef nie meer te sien hoe hy sy boskaas rondskud nie.

Groen Ghoen ·

Ons sal sien: Red Bull het onlangs ‘n paar topmanne oorgekoop, bou hul eie enjin, en het die beste ontwerper (Adrian Newey), plus Verstappen as renjaer. Enige wenner is welkom, behalwe groot asb. tog net nie weer Mercedes nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.