Gaan Bafana ooit weer SA harte wen?

Bafana vier die naweek hul oorwinning oor die Kaap Verdiese Eilande by die Afrikabeker. (Foto: Safa/X)

Gaan Bafana Bafana-doelwagter Ronwen Williams se skittervertoning Suid-Afrikaners se liefde vir die nasionale sokkerspan opnuut aanvuur? Of gaan dit veel meer verg vir Bafana – wat Suid-Afrikaners keer op keer teleurstel – om weer die trots van ʼn nasie te word?

Die 32-jarige Williams het die naweek, in ʼn kwarteindstryd teen die Kaap Verdiese Eilande by die Afrikabeker, vier van sy teenstanders se strafdoelpogings gefnuik en Bafana het die wedstryd met 2-1 beklink. Dit is die eerste keer in 24 jaar dat hulle na die halfeindstryd van die beker deurdring.

Suid-Afrika kom nou in die halfeindstryd teen die magtige Nigerië te staan.

Maar hoeveel ondersteuners terug in Suid-Afrika het eens die moeite gedoen om hierdie heldhaftige poging in Yamoussoukro op die kassie te volg?

Suid-Afrika is ʼn land van sportgeesdriftiges. Die Springbokke wen harte so ver hulle gaan – en oor alle grense en rasse heen. Krieket is ook uiters gewild en geniet groot aanhang, en sokkeraanhangers met wie AFP gesels het, raak ook opgewonde oor Banyana Banyana, die land se vrouesokkerspan.

Maar Bafana? Hulle het tot dusver nie veel gedoen om die land opgewonde te maak nie.

Bywoning by internasionale tuiswedstryde het nou tot in die honderde gedaal, selfs al stroom duisende ondersteuners na wedstryde van plaaslike klubs soos Sundowns en Pirates.

Ronwen Williams en Hugo Broos vier fees nadat Suid-Afrika vir die Kaap Verdiese Eilande in die kwarteindstryd van die Afrikabeker geklop het. (Foto: Franck Fife/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa het Bafana voor Saterdagaand se wedstryd in ʼn boodskap sterkte toegewens, en selfs die president het gebieg dat hy verras is dat hulle so ver gevorder het.

“Om te kom waar hulle is – terwyl ons nie verwag het dat hulle dit gaan doen nie – is ʼn werklik wonderlike prestasie,” het hy die naweek by ʼn kieserregistrasiepunt gesê.

ʼn Vinnige blik na die span se geskiedenis verduidelik dalk die president se vroeëre skeptisisme.

Suid-Afrika is tydens die apartheidsera uit Afrika-sokker geskop, maar het ná die aanvang van die demokrasie ʼn belowende hertoetrede gemaak. In 1996 het Suid-Afrika die Afrikanasiesbeker aangebied én die beker op tuisbodem gewen.

Van daar af het dinge begin suid gaan.

Suid-Afrika het in 2010 die enigste land op die vasteland geword om ʼn Wêreldbekersokkertoernooi aan te bied – en toe tuimel Bafana al in die groepfases uit die toernooi.

Moeite werd?

Die span het nie eens vir die daaropvolgende drie wêreldbekers gekwalifiseer nie en ook nie vir die vorige Afrikabeker nie.

Die Suid-Afrikaners se vertoning vanjaar in die Ivoorkus kan dus bestempel word as ietwat van ʼn inspirerende storie.

Die toernooi het tot dusver egter weinig gedoen om weer vuur te maak onder Suid-Afrikaners wat jare lank die een teleurstelling ná die ander moes verduur en nie veel hoop meer vir die span – of selfs belangstelling daarin – het nie.

In die kroeë en watergate van ʼn plek soos Soweto is daar nie veel aptyt vir die Bafana-sokkermanne nie.

“Hulle het nie regtig baie mense oortuig dat hulle enigsins die tyd werd is nie,” sê Collins Tshabalala, ʼn 27-jarige ingenieur.

Collins en sy spanmaats het by ʼn tafel onder ʼn TV-skerm gesit, ʼn paar biere en ʼn brandewyn of wat bestel en die aksie gevolg – maar die res van die restaurant was eintlik maar leeg.

Die meeste mense kon waarskynlik ook nie tuis gekyk het nie, omdat die township in daardie stadium beurtkrag ondervind het en plek-plek in donkerte gehul was.

Victor Khoza, ʼn 58-jarige skrynwerker en binnenshuise versierder, is ongeërg.

“Hierdie ouens sorg net vir teleurstelling. Dis hoe erg dit is, mense is sonder hoop. Ek sal dalk halftyd huis toe gaan en eerder gaan slaap.”

Indien hy tóg gaan slaap het, sou hy uiteindelik Williams se heldhaftige reddingspoging misgeloop het – en miskien sal aanhangers nou weer regop sit (en wakker bly) om Bafana Bafana te bemoedig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

As hulle konstant presteer soos nou, maar dis te betwyfel. Solank as wat Bafana Bafana nie inklusief is nie gaan dit moeilik wees om enige harte oor te wen.

Vrijburger ·

Nie eers ‘our people’ ondersteun die klomp verloorders nie. LOL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.