Geskorste Halep vrees oor loopbaan

Simona Halep. (Foto: Glyn Kirk/AFP.)

Simona Halep vrees haar tennisloopbaan kan iets van die verlede wees indien haar appèl onsuksesvol is. Die 32-jarige Roemeense speler is in September vir vier jaar vir die gebruik van verbode middels geskors.

Volgens die internasionale tennisintegriteitsbeheerliggaam (ITIA) het sy verlede jaar positief vir Roxadustat – ʼn middel wat ʼn atleet se rooibloedselle en uiteindelike uithouvermoë ʼn hupstoot gee – by die Amerikaanse Ope getoets.

Sy het egter ten sterkste ontken dat sy die middel bewustelik geneem het en voer aan dat besmette aanvullings die rede vir die positiewe toets is.

“Indien die skorsing van vier jaar gehandhaaf word, weet ek nie wat ek sal doen nie. Dit sal waarskynlik die einde van my loopbaan beteken,” het Halep in ’n onderhoud met Euronews Romania gesê.

“As dit vir iets is wat ek nie gedoen het nie en boonop ook nie my skuld is nie, sal dit selfs meer katastrofies wees.”

Patrick Mouratoglou, afrigter, het intussen aanspreeklikheid aanvaar vir die besmette aanvullings.

“Ons het voorgestel dat sy kollageen as ʼn aanvulling neem en ons het dit by ʼn maatskappy aangekoop,” het die Fransman gesê.

Volgens Mouratoglou het die kollageen-produk die verbode middel bevat.

“Ek kon dit nie vooraf geweet het nie, maar ek voel verantwoordelik vir wat gebeur het; ek en my span is immers betrokke. Ons het die kollageen aan haar verskaf.”

Halep verskyn in Februarie voor die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie en sy erken dat haar paadjie met Mouratoglou geskei het.

“Ek het my lewe aan tennis gewy en ek neem die sport se reëls en regulasies baie ernstig op. Terselfdertyd is ek trots op die feit dat ek nooit doelbewus enige verbode middel gebruik het nie. Ek weier om die vierjaarskorsing te aanvaar.”

 (Foto: Xinhua/Han Yan/IANS)

Williams kry hou in ná skorsing

Serena Williams het sewe Wimbledon-titels agter haar naam, maar in 2019 het sy sleg tweede teen Halep gekom.

Die Roemeense speler het toe ʼn eensydige stryd met 6-2 en 6-2 gewen om met die louere op die ikoniese grasbaantoernooi weg te stap.

Die kragmeting het net 55 minute geduur. Die uiteindelike kampioen was briljant en het net drie ongedwonge foute teenoor Williams se 25 begaan.

“Agt is ʼn beter getal,” het die Amerikaner op sosiale media gedeel; ʼn duidelike verwysing na die 2019-eindstryd toe Halep haar van ʼn agtste Wimbledon-titel weerhou het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.