‘Goed, beter, Max,’ sê Horner

Christian Horner en Max Verstappen is ’n gedugte kombinasie Foto: Remko de Waal/ ANP via AFP.

ʼn Rekord van 15 wedrenseges en 454 punte op die jaerspunteleer; ja-nee, Max Verstappen het verlede jaar omtrent stof in die oë van sy teenstanders geskop.

En hoewel dit deksels moeilik sal wees om 2022 se heldedade te herhaal, meen Christian Horner dat sy sterrenjaer deesdae met baie meer volwassenheid om die renbaan jaag.

En volwassenheid saam met waagmoed en bewese bestuursvernuf sorg vir ʼn gevaarlike kombinasie agter die stuur van ʼn Red Bull-vuurwa.

“Ek dink dat ʼn mens vergeet dat Max nou eers 25 jaar oud is – veral wanneer jy al sy prestasies in ag neem. Wat volwassenheid betref het hy dinge beslis na die volgende vlak geneem,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

Volgens Horner was Verstappen se tweestryd met Ferrari se Charles Leclerc beslis iets om oor huis toe te skryf.

“Dit was letterlik wiel-teen-wiel-aksie en nie een renjaer wou vir die ander terugstaan nie. Dit het vir ongelooflike drama gesorg.”

Hy het die jong Nederlander met ʼn robot vergelyk; een wie se visier vierkant op die uiteindelike doelwit gerig is.

“Max het met elke wedren sy bes gegee. Hoe groter die druk, hoe beter was hy. In die Hongaarse Grand Prix hy byvoorbeeld van die tiende plek na die eerste plek gevorder, terwyl hy selfs beter in België gedoen het. So kan ʼn mens eintlik elke wedren opnoem.”

Vanjaar se F1-aksie begin op 5 Maart in Bahrein.

Bepalings:

5 Maart: Bahrein

19 Maart: Saoedi-Arabië

2 April: Australië

16 April: China

30 April: Azerbeidjan

7 Mei: Miami

21 Mei: Emilia Romagna in Imola

28 Mei: Monaco

4 Junie: Spanje

18 Junie: Kanada

2 Julie: Oostenryk

9 Julie: Verenigde Koninkryk

23 Julie: Hongarye

30 Julie: België

27 Augustus: Nederland

3 September: Italië

17 September: Singapoer

24 September: Japan

8 Oktober: Katar

22 Oktober: VSA

29 Oktober: Mexiko

5 November: Brasilië

18 November: Las Vegas

26 November: Abu Dhabi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Brakkies ·

Eks n groot verstappen aanhanger.maar voel hy moet weer bietjie terug kom aarde toe….. sy houding vanaf middel laasjaar was ni goed ni….. oppad om n hamilton houding te ontwikkel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.