Griek amper die pad byster teen Sinner

Stefanos Tsitsipas is deur na die kwarteindstryd van die Australiese Ope. Foto: Twitter.

Dit was taai en daar was beslis ʼn paar benoude oomblikke, maar Stefanos Tsitsipas is deur na die kwarteindstryd van die Australiese Ope nadat hy vir Jannik Sinner met 6-4, 6-4, 3-6, 4-6 en 6-3 geklop het.

Die Griek het vóór gister se vierderondte-aksie nie ʼn enkele stel afgestaan nie, maar die 21-jarige Sinner is ongetwyfeld een van tennis se opkomende sterre en hy het veral in die derde en vierde stel sy stem dik gemaak.

Maar Tsitsipas tel nie verniet onder die gunstelingspelers om met die louere in Melbourne weg te stap nie en hy het die beslissende stel met 6-3 beklink.

“Dit was ʼn baie lang wedstryd en dit voel asof ek vir ʼn eeu op die baan was. Ek het met ʼn ongelooflike teenstander kragte gemeet en ek is baie opgewonde om hierdie oomblikke met julle hier in Australië te deel – ek probeer immers altyd my bes,” het Tsitsipas na afloop van die wedstryd gesê.

Aussie staan in Djokovic se pad om na uitspeelrondtes deur te dring

Novak Djokovic speel vandag teen Alex de Minaur in die vierde rondte van die toernooi en die Aussie sal sy bes doen om die Serwiese tennissneltrein te ontspoor.

Die twee spelers het nog nooit vantevore teen mekaar gespeel nie, maar dit sal moeilik wees om vir Djokovic te klop – dyspierbesering ofte not.

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Die voormalige wêreldno. 1-speler – wat laas in 2018 ʼn wedstryd in Melbourne verloor het – is goed op koers om sy tiende Australiese Ope-titel in te oes en hy weet hoe om belangrike wedstryde te wen.

Tog het sy beenbesering ʼn definitiewe invloed op sy beweeglikheid op die baan.

“Ek voel heel oukei in die aanloop tot ʼn wedstryd, maar dinge raak erger sodra ek vir ʼn rukkie beweeg het. Soms werk die pynpille en die behandeling; ander kere weer glad nie. Dit is omtrent vir jou ʼn tuimeltreinrit,” het Djokovic ná sy vorige wedstryd teen Grigor Dimitrov gesê.

Die 35-jarige speler het in 2021 vir Daniil Medvedev in die eindstryd geklop nadat hy in die aanloop tot dié wedstryd sy maagspier geskeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.