Haas-tige Mick se F1-droom word waar

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Daar sal volgende jaar weer ’n Schumacher op F1 se groot verhoog wees.

Die 21-jarige Mick Schumacher, seun van die legendariese Michael, sal in 2021 saam met Nikita Mazepin agter die stuur van ’n Haas-renmotor inskuif.

Die jong Schumacher is tans met sy 205 punte die voorste renjaer op die F2-punteleer en daar word reeds vir ’n geruime tyd oor ’n moontlike sprong na F1 bespiegel.

“Ons is ongelooflik opgewonde om hierdie twee nuwelinge in ons span te hê. Welkom Mick!” het Guenther Steiner, Haas se spanhoof, die opwindende nuus gister op Twitter bevestig.

Schumacher het vanjaar reeds twee F2-wedrenne gewen, terwyl hy tien keer op die podium gestaan het. Volgens Steiner het hierdie vertonings hom oortuig dat die Duitser gereed is vir F1-aksie.

“Mick het wedrenne gewen en bo baie talentvolle renjaers in sy afdeling uitgestyg. Ek is oortuig dat hy die F1-geleentheid verdien het en dit is nou ons plig om sy talent verder te ontwikkel.”

Vir Schumacher is dit ’n droom wat bewaarheid is. Hy het reeds in September gesê dat hy eendag Lewis Hamilton se rekords sal jaag; die 35-jarige Brit is juis besig om sy pa se rekords te verbeter.

“Die vooruitsig om deel van die F1-wegspringrooster te wees maak my ongelooflik opgewonde. Ek het eintlik nie woorde om te beskryf hoe ek voel nie,” het Schumacher gesê.

“Ek het nog altyd geglo dat my F1-droom ’n werklikheid sou word. Ek sal soos altyd my beste gee en ek sien uit na die avontuur wat voorlê.”

Schumacher het ook sy ouers vir hul ondersteuning bedank.

Sy 51-jarige pa het in 2013 ernstige hoofbeserings ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen.

Die voormalige Ferrari-spanhoof en die jarelange Schumacher-familievriend, Jean Todt, het egter onlangs bevestig dat die Ferrari-legende sy seun se vordering kan volg.

“Ek wil ook hulde aan my ouers bring – ek is lief vir hulle en ek weet dat ek baie aan hulle verskuldig is,” het die 21-jarige gesê.

Mick is die derde lid van die Schumacher-familie – saam met Michael en Ralf – wat sy vaardighede op die F1-verhoog sal uitstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daleen1 ·

Gideon, jy weet dit dan, hoop ou Hamilton word bietjie teruggebring aarde toe!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wonderlik! Miskien sien ons eendag Mick teen Michael…

Eend Bessinger ·

Ja nee. Dit sal interessant wees om hulle saam te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.