Hamilton ewenaar Schumacher se rekord

Lewis Hamilton. (Foto: xpbimages.com/Pool via AP)

ʼn Mens wonder wat deur die kop van Mick Schumacher, seun van Michael Schumacher, gemaal het toe Lewis Hamilton Sondag die Eifel Formule Een- Grand Prix op die Nurburgring-baan gewen het.

Hamilton (Mercedes) het met sy oorwinning sy naam opnuut in die rekordboeke verewig toe hy die rekord van 91 oorwinnings van Michael Schumacher geëwenaar het. Hamilton is ook op pad om sy sewende wêreldtitel te beklink.

Ja, Hamilton jaag met die vinnigste motor, maar hy en Schumacher het só oorheers dat hulle saam in 567 renne 182 oorwinnings behaal het en die ander jaers en spanne ore aangesit het.

Ná Sondag se ren het Mick Schumacher een van sy pa se laaste valhelms wat hy in 2012 gedra het, kort voor sy ernstige ski-ongeluk, aan Hamilton oorhandig.

Die ironie is dat Mick Schumacher sy buiging in Formule Een sou gemaak het, byna 20 jaar ná sy pa die eerste van sy vyf opeenvolgende oorwinnings op Nurburgring in ʼn Ferrari behaal het.

Foto: @F1/Twitter

Maar Mick se drome is beëindig nadat hy weens die gure weer nie aan die eerste oefensessie in sy Alfa Romeo kon deelneem nie en dus nie sy buiging kon maak nie.

Hamilton, wat sy spanmaat Valtteri Bottas reeds in die eerste draai verbygesteek het, is gevolg deur Max Verstappen (Red Bull), Daniel Ricciardo (Renault), Sergio Perez (Racing Point), Carlos Sainz (McLaren) en Charles Leclerc (Ferrari).

Hoe vergelyk Hamilton en Schumacher?

Hamilton het in 261 renne 91 oorwinnings behaal, was 160 keer op die podium, 96 keer in die eerste wegspringposisie en het in 51 renne die vinnigste rondtetyd aangeteken. Hy was reeds ses keer die wêreldkampioen.

Schumacher het 91 keer in 306 renne geseëvier, was 155 keer op die podium, was 68 keer in die voorste wegspringposisie en het 77 keer die vinnigste rondtetyd opgestel. Hy was sewe keer die wêreldkampioen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tweeling ·

Siestog! Jy kan nie die 2 vergelyk nie. Hulle motors is hemels breed verskillend van mekaar itv tegnologie.

Racheltjie Debeer ·

Ek stem saam. Sit vir Hamilton in ‘n motor wat presies dieselfde is as wat Schumacher gery het en kyk of hy dan nog so goed is. As hy regtig wil bewys dat hy die beste bestuurder is, moet hy vir ‘n ander, minder bekende, span gaan ry. Dan kan ons weer praat.

Frans ·

Soos Nadal in ‘n klas van sy eie is,so is Mercedes.”Sir Jackie Stewart says it is ‘hard to justify’ calling Lewis Hamilton the greatest F1 driver of all time and doesn’t even pick him in his top three because his Mercedes car is so superior it’s ‘almost unfair on the rest of the field’

Annakapat ·

You can’t keep a good man down!
Dis so eenvoudig soos dit.

koos10 ·

Ek wil nie in die debat betrokke raak oor wie die beste is nie, want dan moet en Senna ook betrek. Dis verskillende eras, karre, reëls en wat nog alles. Dis nie regverdig om appels met piesangs te vergelyk nie.

Waaroor ek wil praat is die beriggewing. Dis heeltemal reg dat Hamilton vir Bottas verby gegaan het om die eerste draai, maar wat het gebeur om draai twee en drie? Bottas weer voor en besig om hakskene te wys vir die res van die jaers. Bottas se kar het hom egter in die steek gelaat, en ek voel dat hy te veel in die skadu van Hamilton moet staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.