Hamilton is vol lof vir Schumacher

Lewis Hamilton. (Foto: Mark Thompson/Pool via AP)

Ná Sondag se Spaanse Grand Prix in Barcelona het Lewis Hamilton een van Michael Schumacher se rekords verbeter.

Die 35-jarige Brit het met sy klinkende oorwinning sy 156ste podiumplek los gery om die legendariese Duitser se langstaande rekord van 155 podiumplekke verby te steek.

Hy is ook kort op die hakke van Schumacher se 91 loopbaanseges en sewe kampioenskaptitels.

“Ek weet nie eintlik wat om te sê nie. Al ons renjaers het Michael se prestasies van jongs af dopgehou en daarvan gedroom om eendag iets soortgelyks te doen,” het Hamilton gesê.

Schumacher was ’n legende in die rooi van Ferrari, maar hy het in 2013 ernstige kopbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe. Hoewel bitter min inligting oor sy toestand bekend is, sou hy vroeër ’n operasie ondergaan het om sy senuweestelsel te herstel.

Michael Schumacher (19 Oktober 2006) (Foto: AP Photo/Daniel Maurer, File)

“My wildste drome word egter nou oortref en ek is ongelooflik dankbaar vir die geleenthede wat ek daagliks kry. Michael was ’n uitstekende atleet en bestuurder en ek is baie geëerd dat my naam saam met syne, Ayrton Senna en Juan Manuel Fangio genoem word.”

Jean Todt, die voormalige Ferrari-spanbestuurder en een van Schumacher se hegte vriende, het al vantevore gesê dat hy nie eintlik veel gepla is deur Hamilton se prestasies nie.

“Ek is baie lief vir Michael, maar dit is onmoontlik om te sê wie die beste renjaer van alle tye is. Daar is Juan Manuel Fangio, Jim Clark, Ayrton Senna en Michael. Jy kan eintlik net bepaal wie die beste van hul era was,” het Todt aan The Daily Mail gesê.

“Ek weet dat Lewis binnekort Michael se rekord kan verbeter. Hy het alles tot sy beskikking by Mercedes, maar ek gee rêrig nie om nie.

“Ek onthou toe ek in 2000 in Suzuka op die podium saam met Michael was. Hy het pas sy eerste titel saam met Ferrari gewen en ek het vir hom gesê dat ons lewens nooit weer dieselfde sou wees nie. Ons het alles bereik wat ons wou. Ná ’n ongeluk soos Michael s’n, maak dit saak of Lewis meer titels gewen het?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

As ek reg onthou het Schumacher sy eerste twee titels by Benetton behaal en die res by Ferrari.Hamilton een by Mclaren en die res by Mercedes.

Judge ·

Ja en Benetton was beskou as swakker motor as Williams. En die Ferraris moes vir verskeie jare ontwikkel word tot die beste motor.
Vir Hamilton was McLaren gelyk aan die ander top motors en Mercedes is verre weg die beste.

Bottom line- oor die gang van sy loopbaan is Hamilton beter kans op sukses gegun deur beter motors.

Wie is die beter renjaer? Schumi natuurlik.

twaalfboor ·

Van een ding is ek oortuig….. Schumacher sou nie die knie gebuig het nie. Hamilton sal NOOIT in Schumacher se klas wees nie. Dis maklik as jy jou loopbaan op ñ skinkbord kry soos Hamilton.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.