Híér is Du Plessis se kans

Suid-Afrika se Dricus du Plessis. (Foto: Sean M. Haffey/Getty Images via AFP)

Wanneer Dricus du Plessis en Robert Whittaker op 8 Julie by UFC290 kragte meet, is daar baie op die spel: Die wenner sal sake teen Israel Adesanya om die middelgewigtitel uitspook.

Dana White, hoof van die Ultimate Fighting Championship, het die geveg bevestig.

“Die wenner sal teen Adesanya later vanjaar te staan kom. Daardie geveg sal in Sydney, Australië, plaasvind,” het White op Twitter gesê.

En hoewel Whittaker ook aanspraak op ʼn titelgeveg het – hy is immers ʼn voormalige kampioen – is die tafel ongetwyfeld gedek vir ʼn Du Plessis/Adesanya-tweestryd.

Die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-ster is reeds in ʼn woordgeveg met hom betrokke.

Du Plessis het vroeër gesê dat hy goed op koers is om Afrika se eerste UFC-kampioen te word. Hoewel Adesanya in Nigerië gebore is, woon hy al vir ʼn geruime tyd in Nieu-Seeland en sy voorbereidingsbasis is in Auckland.

“Ek en Cameron Saaiman word elke dag wakker in Afrika. Ons oefen in Afrika. Ons woon nog in Afrika. Dít is ʼn Afrika-kampioen en dit is wat ek sal word,” het Du Plessis tydens ʼn UFC-mediageleentheid gesê.

Nodeloos om te sê het Adesanya nie die Suid-Afrikaner se kommentaar vreeslik geniet nie en hy het beloof om Du Plessis ʼn les te leer.

Maar die 29-jarige sportster, wat in Pretoria aan sy vaardighede slyp, gaan beslis nie kanonvoer wees nie. Hy het nou al vyf gevegte op ʼn streep in die UFC gewen.

Hy het in Maart vir Derek Brunson in die tweede ronde van hul geveg in Las Vegas laat les opsê.

Hoewel Du Plessis duidelik in sy noppies met sy vertoning was, het hy toe al geweet dat daar nog harde werk voorlê voordat hy sy uiteindelike doelwit kan bereik.

“Ek vier nie nou al fees nie. Ek wil die beste in die wêreld wees. Maar hierdie vertoning beteken so baie vir my en vir Suid-Afrika,” het hy ná die geveg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre ·

Baie sterkte Dricus hy’s n taai kalant maar ek glo jy kan hom n drag slae gee!

Jean ·

Ek hoop regtig Dricus se operasie was suksesvol om sy fiksheid beter te maak, anders gaan hy sukkel teen die man.

Riaan ·

“Showing off is the fool’s idea of glory.” a quote by Bruce Lee. Hou op om in die media te baklei en doen dit in die cage, want net soos Conor Mcgregor mag jy ook moontlik baie woorde moet sluk indien jy verloor.

Jean ·

Conor het vrêk baie geld gesluk, so ek glo nie hy gee om as hy net baie praat en amper altyd verloor nie.

Gaitsigubib ·

Harley jy praat gewoonlik met ‘n bietjie kennis agter jou skrywes, so ek kan beslis nie met jou stry nie. Hou nou maar saam met my duim vas dat hierdie boerseun die ander manne gaan moker. Ek het nie meer TV dish nie, so ek sal maar n plan moet maak om hierdie opkomende fight iewers te gaan kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.