Holger laat Novak kleitrap

Novak Djokovic is in die kwarteindstryd van die Italiaanse Ope deur Holger Rune uitgeskakel. (Foto: Filippo Monteforte/AFP)

Novak Djokovic se veldtog om sy Italiaanse Ope-titel suksesvol te verdedig is op ʼn reënerige dag in Rome deur Holger Rune kortgeknip.

Die Serwiër, wat binnekort deur Carlos Alcaraz as die wêreld se voorste speler onttroon sal word, het erken dat hy in die nat toestande gesukkel het terwyl hy ook mediese behandeling gedurende die wedstryd ontvang het.

“Dit was die koudste en natste toernooi wat ek nog ooit in Rome gespeel het. Die nat toestande het dit baie moeilik gemaak om die bal verby hom te slaan,” het Djokovic gesê.

Hy was egter ook vol lof vir sy jong teenstander.

“Holger is ʼn baie talentvolle en dinamiese speler. Hy was doodeenvoudig nou te goed vir my gewees.”

Die Serwiër se Franse Ope-voorbereiding is vroeër deur ’n elmboogbesering ontwrig – hy het onder meer die Madrid-ope misgeloop – en hy het in Rome probeer om weer met die ingesteldheid van ouds te speel.

Hy was egter nog nie op sy beste nie, al het hy in aanloop tot die kwarteindstryd met Tomas Etcheverry, Grigor Dimitrov en Cameron Norrie afgereken.

Indien hy met die louere op Roland-Garros sou wegstap, sal hy sy 23ste Grand Slam-titel inoes. Die meeste nóg deur ’n manspeler.

In die vroueafdeling het ’n dyspierbesering vir Iga Swiatek in haar kwarteindstryd teen Elena Rybakina gekniehalter.

Die wêreld se topvrouespeler het ook mediese behandeling op die baan ontvang voordat sy die aftog geblaas het.

Die telling was toe 6-2, 6-7 en 2-2.

Uitslae:

Casper Ruud klop Francisco Cerundolo met 7-6 en 6-4

Holger Rune klop Novak Djokovic met 6-2, 4-6 en 6-2

Jelena Ostapenko klop Paula Badosa met 6-2, 4-6 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Holger Rune het beslis die krakie in Novak se 36- jarige mondering ontdek, en is ‘n toekomstige grote.
Toemaar Novak, in Parys is jy weer op jou beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.