Inspirerende Letchen staan wéér op CrossFit-podium

Letchen du Plessis. Foto: Verskaf.

Verskoon tog die laerskoolrympie, maar gooi die water (behalwe as jy hierdie naweek in Pretoria is) en gooi die sand, want Letchen du Plessis is ongetwyfeld aan die brand!

Die jong Pretorianer het verlede week vir die tweede agtereenvolgende jaar op die podium by die CrossFit-spele in Madison, Wisconsin, gestaan toe sy derde in haar Adaptive-kategorie geëindig het.

Dít nadat sy in 2017 haar heup op die netbalbaan beseer en distonie ná vele operasies by haar gediagnoseer is. Dit is ʼn neurologiese toestand wat onwillekeurige sametrekking en spasma van die spiere veroorsaak.

Sy sukkel met die heupbuigspiere van haar een sy en moet gevolglik met krukke hardloop. By verlede jaar se Spele is daar egter aan haar gesê dat sy nie met die hulpmiddel mag hardloop nie en sy moes die hardloopgedeelte van die eerste oefensessie op een been voltooi.

Maar ʼn splinternuwe ortopediese stut – danksy Thuasne – het vanjaar ʼn reuseverskil gemaak.

“Ek is baie tevrede, want alles wat ek vanjaar gedoen het, was om myself vir die Spele voor te berei. Dit is soms ʼn eensame pad, want ʼn mens moet elke aand vroeg gaan slaap om vroeg die volgende op te staan om vroeg te gaan oefen. Ek is dankbaar dat ek nou vir eers weer kan rus,” het sy in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Foto: Verskaf.

Sy vertel haar gunsteling-item is Rinse ‘n’ Repeat waar deelnemers moes swem en hul vaardighede op ʼn SkiErg-masjien moes ten toon stel.

Sy was die enigste deelnemer in haar kategorie wat die item kon voltooi en boonop sou sy 28ste in die Elite-afdeling klaargemaak het.

“Ek was ná afloop van die swemsessie ʼn bietjie emosioneel, want toe ek destyds met distonie gediagnoseer is, het ek gaan swem as my rehabilitasiewerk my frustreer of as ek oorweldig voel. Ek het net opnuut besef hoe ver ek al gevorder het en dit was ʼn baie emosionele oomblik.”

Maar daar was ook ʼn rede om te glimlag.

“Die persoon in beheer van ons kategorie het gesê hy sal vir enigiemand aandete koop wat tot die sewende ronde van die item vorder. Ek wag steeds vir myne!”

Die Adaptive-kategorie sukkel nog met ʼn paar groeipyne – soos wie toegelaat word om deel te neem en wie nie – maar Du Plessis het haar bes gedoen om haar nie daaraan te steur nie.

“Ek het geen probleem met enige deelnemer gehad nie. Ek het vir hulle Afrikaans probeer leer en van my Suid-Afrikaanse eetgoed met hulle gedeel. Al die oorsese atlete stem saam dat ons eetgoed beter as hulle s’n smaak.”

Foto: Verskaf.

Hoewel rus tussen die verskillende items baie belangrik is, het sy ook kans gekry om met van die sportsterre te gesels.

“Ek het vir Arielle Loewen ontmoet en Emma Lawson is ook baie aangenaam. Ek en Michelle Merand (die Suid-Afrikaner in die Elite-kategorie) het ook baie goed oor die weg gekom.”

Sy wil nie nou al te veel aandag aan haar volgende fiksheidsavontuur skenk nie.

“Ek wil nou net eers huis toe gaan, want ek verlang na my familie en my vriende. Daarna sal ek met my afrigter gesels oor wat die toekoms kan inhou. Maar vir die volgende paar weke wil ek dinge rustig vat en beslis nie 04:00 al opstaan nie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.