Jenny opgewonde oor Protea-hoofstuk

Jenny van Dyk ontvang haar Protea-baadjie van netbalpresident Cecilia Molokwane. (Foto: X/Netball SA)

Jenny van Dyk word met reg as ʼn topnetbalafrigter beskou. Sy het vyf keer op ʼn streep die Telkom-netballiga saam met die Jaguars gewen, terwyl sy ook al ʼn silwerwareslag of twee (óf drie) saam met Tukkies in die Varsitybekerreeks geslaan het.

Sy is Woensdagmiddag as die nuwe hoofafrigter van Suid-Afrika se nasionale netbalspan aangewys, terwyl die bekwame Zanele Mdodana (voormalige Protea-kaptein en Matie-afrigter) haar sal bystaan.

Die twee gaan Suid-Afrika se netbalkoers in die aanloop tot die volgende Wêreldbeker-toernooi in Sydney bepaal.

“Dit is ʼn ongelooflike gevoel en ʼn groot eer om met die verantwoordelikheid toevertrou te word om die Proteas af te rig. Ek het lank gewag om die groen kleurbaadjie aan te trek,” het Van Dyk gesê.

Sy is ook opgewonde om saam met Mdodana te werk en voorspel dat hulle ʼn gedugte vennootskap kan vorm.

Oudafrigter Norma Plummer het die spelers weer ʼn rede gegee om in hul vermoëns op die baan te glo – die Proteas neem as’t ware nie meer net aan toernooie deel nie, maar hulle is ook goed genoeg om wedstryde te wen.

Volgens Van Dyk is een van haar grootste doelwitte juis om op dié grondslag voort te bou.

“Ons moet ʼn wenkultuur en ʼn goeie netbalidentiteit vestig. Ek glo dat ons goed genoeg is om mededingende en wennetbal te speel.”

Volgens Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika, is die nasionale sportbeheerliggaam vol vertroue dat die regte aanstellings gemaak is.

“Ons weet dat die span groter hoogtes kan bereik en met die beste spanne kan saamgesels. Ons wens die hele afrigtersgroep alles van die beste toe,” het Molokwane gesê.

Van Dyk se eerste taak as Protea-afrigter is om ʼn oefengroep van 30 spelers te kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.