Jong SA’ner in Australië: ‘Ek wil wêreldno. 1-speler word’

Jeffrey Strydom is een van Australië se blinkste jong tennissterre. (Foto: Verskaf)

Die 14-jarige Jeffrey Strydom het destyds sy eerste tennislesse by Keith Phathizwe Mabuza op die harde bane van die Middelburg-buiteklub in Eeufeesstraat gekry.

Hy het intussen saam met sy ouers na Adelaide verhuis en deesdae word hy as een van Australië se beste jong tennisspelers gereken.

(Foto: Verskaf)

Jeffrey is tans die naasbeste Aussie-speler in sy ouderdomsgroep en ʼn paar Europese toernooie wink vir hom oor net meer as ʼn maand.

“Ek is baie opgewonde oor die toer en dit is ʼn wonderlike geleentheid om teen spelers van ander lande te speel. Ek gaan my heel beste gee en probeer om ʼn toernooi te wen,” het hy laat weet terwyl hy in Darwin by ʼn oefenkamp aan sy vaardighede skaaf.

Die toerwedstryde – wat in Duitsland en Oostenryk gespeel word – word op kleibane beslis. Gelukkig het hy reeds genoeg ervaring op dié speeloppervlak opgedoen.

Volgens Jeffrey is hy die trotsste op sy raketswaaivertonings by Australië se nasionale kampioenskap. Hy het na die halfeindstrydrondes van die hardebaan- én kleibaantoernooie deurgedring en hy was in al twee kragmetings die jongste speler op die baan.

(Foto: Verskaf)

Was hy nie op sy senuwees nie?

“Ek was natuurlik, maar ek wil nie daarop fokus nie. Ek probeer altyd om van alles te vergeet [wat sy aandag kan aftrek] en net te konsentreer om die wedstryd te wen.”

Sy ma, Lerentia, is ʼn fiksheidsghoeroe. Sy het al die Loskop-halfmarathon gewen terwyl sy ook op die podium van die Twee Oseane se velddraf-afdeling gestaan het.

Danksy haar StrydomFitness-program is sy steeds besig om oud en jonk met hul fikswordplanne by te staan.

“Sy help my baie. Haar kondisioneringskennis beteken dat ek die regte oefening doen wat by my fiksheidsbehoeftes pas. Sy help terselfdertyd ook dat ek vinniger en ratser op die baan word, terwyl dit ook ʼn goeie invloed op my reaksies het.”

Tuis praat die Strydom-gesin nog een stryk deur Afrikaans, maar Jeffrey het bitter lanklaas ʼn opstel in dié taal geskryf.

Tog sorg die vasberadenheid waarmee hy sy uiteindelike doelwit uitlig dat dit verstaanbaar vir enige tennisliefhebber is.

“Ek wil die wêreldno. 1-speler word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.