Jonk, talentvol en die wêreld se beste

Carlos Alcaraz het die Amerikaanse Ope gewen. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Sosialemediagebruikers skryf gereeld briewe aan hul “jonger self”. Normaalweg is hierdie skryfstukke gelaai met wyshede, kwinkslae en lewenslesse.

Maar as Carlos Alcaraz oor 30 jaar ʼn brief aan homself as ʼn 19-jarige wil skryf, gaan dit waarskynlik net ʼn kort en eenvoudige boodskap bevat: “Welgedaan!”

Die Spaanse tiener het vir Casper Ruud in die eindstryd van die Amerikaanse Ope met 6-4, 2-6, 7-6 en 6-3 geklop om sy eerste Grand Slam-titel in te oes.

Terselfdertyd het hy sommer vir Daniil Medvedev as die wêreld se voorste speler onttroon. Alcaraz het op 5 Mei sy 19de verjaardag gevier en hy is die jongste speler nóg om die eerste plek op die ATP-ranglys te beklee.

“Dit is al my droom van ʼn baie jong ouderdom. Om ʼn Grand Slam-kampioen en die wêreldnommereenspeler te wees, is iets waarvoor ek baie hard gewerk het. Ek is skaars 19 jaar oud en al die moeilike besluite het ek saam met my ouers en my span geneem. Hierdie oorwinning is baie spesiaal vir my,” het Alcaraz ná die eindstryd gesê.

Die jong ster het 14 kishoue afgevuur en hy het ook die wedstryd met ʼn kragtige afslaan beklink. Nie sleg vir iemand wat in ʼn rits taai wedstryde in aanloop tot die eindstryd gespeel het nie.

Sy laaste drie kragmetings voor die eindstryd is oor vyf stelle beslis en hy was amper 14 uur lank op die tennisbaan. Sy kwarteindstryd-tweestryd teen Jannik Sinner het vyf uur en 15 minute lank aangehou.

“Daar is nie tyd om moeg te wees wanneer jy in die uitkloprondes van ʼn Grand Slam-toernooi speel nie. Jy moet gereed wees en jou heel beste gee.”

In Carlos Alcaraz het die Spaanse tennis-armada beslis ʼn kragtige wapen.

  • Die jongste wêreldnommereenspelers:
  1. Carlos Alcaraz 19 jaar en vier maande
  2. Lleyton Hewitt 20 jaar en nege maande
  3. Marat Safin 20 jaar en 10 maande
  4. John McEnroe 21 jaar en 1 maand
  5. Andy Roddick 21jaar en 2 maande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.