Kan Schwartzman vir Nadal in sy spore stuit?

Rafael Nadal en Diego Schwartzman ná verlede jaar se halfeindstryd op Roland Garros. Foto: Thomas Samson/AFP. (Photo by Thomas SAMSON / AFP)

Wanneer Diego Schwartzman en Rafael Nadal se rakette môre in Parys kruis, sal die Argentyn die moeilike taak moet aanpak om die “Koning van Klei” in sy spore te probeer stuit.

Die 35-jarige Spanjaard is goed op dreef om sy 14de Franse Ope-titel in te oes nadat hy gister met Italië se jong sensasie, Jannik Sinner, afgereken het. Die telling was 7-5, 6-3 en 6-0.

En nadat hy net een van sy 11 vorige wedstryde teen Nadal kon wen, weet Schwartzman dat hy ’n ekstra groot haas uit die hoed sal moet pluk om hul komende kwarteindstryd-kragmeting te wen.

“Wanneer ’n mens teen Rafa speel, moet jy vanuit die staanspoor daaraan dink om geleenthede vir jouself op die baan te skep en dat jy die wedstryd kán wen. Eintlik kan jy aan enigiets dink, solank dit net jou aandag aftrek van die feit dat dit Rafael Nadal is wat aan die ander kant van die net vir jou wag,” het Schwartzman gesê.

Die Argentyn het verlede jaar vir Nadal in die Italiaanse Ope uitgeskakel, net om ’n paar weke later hulpeloos toe te kyk hoe die Spanjaard hom op die kleibane van Roland Garros verrinneweer.

“Om teen hom op Roland Garros te speel is altyd ’n goeie aanduiding van hoe goed jy eintlik is. Jou wedstrydplan moet ongetwyfeld ’n agtermekaar storie wees, terwyl jy vanuit die staanspoor op jou beste moet wees.”

Hier is ’n lekker stukkie statistiek om mee af te sluit: Sedert Nadal in 2005 sy buiging in Parys gemaak het, het hy 104 wedstryde gewen en net twee verloor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.