Kyrgios reken met boesemvriend in NY af

Thanasi Kokkinakis en Nick Kyrgios. Foto: Twitter.

Met hul liefde vir oorbelle en arrogante spel – gepaard met meer as genoeg talent – is Nick Kyrgios en Thanasi Kokkinakis ’n gedugte kombinasie op die tennisbaan. As dubbelspelmaats laat hulle gereeld hul teenstanders bontstaan en hulle het onder meer die Australiese Ope-titel in Januarie gewen.

Maar in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope moes die twee Aussies as individuele spelers rakette kruis; Kyrgios het die kragmeting met 6-3, 6-4 en 7-6 gewen.

Die 27-jarige Australiër lewer deesdae vuurwarm spel op die tennisbaan en hy het al vanjaar met ’n gerekende speler soos Daniil Medvedev afgereken, terwyl hy ook na die Wimbledon-eindstryd deurgedring het.

Hy erken egter dat sy wedstryd teen Kokkinakis ’n moeilike storie vir hom was – die twee is immers boesemvriende en in Australië staan hulle as die “Special K’s” bekend.

“Dít was seker een van die ongemaklikste wedstryde van my loopbaan. Ons ken mekaar se spel so goed en ek het my bes gedoen om nie na hom te kyk nie en net op die bal te konsentreer,” het Kyrgios gesê.

Die tweestryd het net ná Serena Williams se wedstryd teen Danka Kovinic plaasgevind en die spelers het in ’n stampvol stadion in New York gespeel.

“Dit is malligheid om ná Serena se moontlik laaste tenniswedstryd teen een van my heel beste vriende te speel. Boonop was dit my 200ste oorwinning as ’n individuele speler; beslis ’n aand wat ek nie sommer sal vergeet nie.”

’n Hofsaak of twee staar Kyrgios egter in die gesig nadat Anna Palus, ’n Poolse toeskouer wat die Wimbledon-eindstryd bygewoon het, hom van naamskending beskuldig het.

Die vurige speler het destyds by die skeidsregter gekla dat ’n toeskouer sy aandag aftrek terwyl hy besig is om af te slaan.

Toe die skeidsregter aanvoer dat hy nie weet van wie die Australiër praat nie, het Kyrgios gesê dat hy die skuldige kan uitwys.

“Ek weet presies wie dit is. Dit is die een wat lyk of sy omtrent 700 drankies inhet.”

Volgens Palus het Kyrgios se woorde haar en haar gesin baie skade berokken en sy het geen ander keuse as om ’n saak van naamskending teen hom aanhangig te maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.