Laaste 16 in aksie by Wimbledon

Novak Djokovic. (Foto: David Gray/AFP)

Die laaste 16 spelers in die mans- én vroue-enkelspel is vandag in aksie by Wimbledon.

Die wêreld se topspeler Novak Djokovic speel teen die ratse Cristian Garin. Die man van Chili het in 2013 die Junior Franse Ope gewen deur Alexander Zverev in die eindstryd te klop. Die vierde gekeurde Zverev speel teen die Kanadees Felix Auger Aliassime.

Die tweede gekeurde Daniil Medvedev speel teen Hubert Hurkacz. Medvedev het gesweet om in die vorige ronde in vyf stelle met die veteraan Marin Cilic klaar te speel.

Die sewende gekeurde kragman Matteo Berrettini kom teen die ongekeurde Ilya Ivashka te staan. Berrettini is een van die gunstelinge by die All England Club nadat hy die grasbaantoernooi by die Queen’s Club gewen het in die aanloop tot die Wimbledon-toernooi.

Die sesde gekeurde Roger Federer kom teen nog ʼn Italianer, Lorenzo Sonego, te staan. Die vraag wat in elke wedstryd van Federer gevra word, is of dit die laaste keer is dat jy hom op hierdie vlak van die spel in aksie sal sien. Die Switser word volgende maand 40 jaar oud.

Nog een van die nuwe jong sterre, die tiende gekeurde Denis Shapovalov, pak die agste gekeurde Roberto Bautista Agut van Spanje. In nog ʼn stryd van die jong manne speel Karen Khachanov teen die 21-jarige Amerikaner Sebastian Korda.

Ashleigh Barty. (Foto: Ben STANSALL/AFP)

In die vroue-enkelspel kom die eerste gekeurde Australiër Ashleigh Barty teen die veertiende gekeurde Barbora Krejčíková te staan. Die tweede gekeurde Aryna Sabalenka speel teen die gevaarlike Elena Rybakina. In ʼn wedstryd wat beloof om ʼn taai tweestryd te wees, speel die Duitser Angelique Kerber teen Amerika se Coco Gauff.

Afrika het nog hoop vir ʼn speler om die kwarteindstryd te haal met die 21ste gekeurde Ons Jabeur van Tunisië wat teen die sewende gekeurde Iga Świątek te staan kom.

Die 23ste gekeurde Amerikaner Madison Keys speel teen die ongekeurde Viktorija Golubic. Die agste gekeurde Karolína Plíšková pak die ongekeurde Ludmilla Samsonova.

Paula Badosa en Karolína Muchová pak mekaar op baan 12 en in die stryd van die ongekeurdes speel die nuwe Britse ster Emma Raducanu op baan 1 teen die Australiër Ajla Tomljanović vir ʼn plek in die kwarteindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.