Le Clos prys Hongaarse tiener

Chad le Clos met sy brons medalje.\. (AP Photo/Lee Jin-man).

Chad le Clos het weliswaar Suid-Afrika se eerste medalje by die Wêreld-langbadkampioenskap verower, maar die Hongaarse tienersensasie, Kristof Milak, het swembadwater in sy oë geskop in die eindstryd van die 200 m-vlinderslag.

Le Clos was derde in dié item met ’n tyd van 1:54,15 min, amper vier sekondes stadiger as Milak se blitsige nuwe wêreldrekordtyd van 1:50,73 s.

Sodoende het die 19-jarige die legendariese Michael Phelps se rekord – wat al sedert 2009 staan – verbeter. Milak was 0,78 s vinniger as die Amerikaner.

“Dit was ’n tawwe resies en ek het my bes gegee. Ek het veral die eerste 100 m so vinnig as moontlik probeer swem en dit het gevoel asof ek die item kon wen,” het Le Clos gesê.

Maar Milak was briljant oor die laaste 100 m en het die medalje op ’n drafstap gewen.

“Hy (Milak) was net pleinweg verstommend en sy 1:50 min is so te sê ’n tyd wat mens in ’n vryslag-item verwag. Hy is ’n jong man met ’n baie blink toekoms wat op hom wag, ek sal egter gereed wees vir hom volgende jaar,” het Le Clos gesê.

“Kristof is eintlik net in ’n ander liga tans. Hy is net deksels vinniger as die res van ons.”

Ook Phelps het die Hongaar gelukgewens.

“So gefrustreerd as wat ek is om te sien hoe daardie rekord in die slag gebly het, kan ek eerlikwaar nie méér tevrede wees om die wyse te sien waarop hy dit gedoen het nie,” het Phelps aan The New York Times gesê.

Die 200 m-vlinderslag is waarskynlik Phelps se gunsteling -item.

“Sy laaste 100 m was ongelooflik en hy het ’n bobaas 200 m-vlinderslag van die begin tot einde geswem.”

  • Dan het Suid-Afrika se gemengde 4×100 m-wisselslagspan van Tatjana Schoenmaker, Christopher Reid, Ryan Coetzee en Erin Gallagher ’n nuwe Afrika-rekord van 3:49,90 min geswem, maar het steeds nie vir die eindstryd gekwalifiseer nie.
  • Die 17-jarige Duné Coetzee het sewende in haar 200 m-vlinderslagitem geëindig. Haar tyd was 2:11,92 min en sy het algeheel 20ste in haar eerste senior wêreldkampioenskap klaargemaak.
  • In die 200 m individuele wisselslag was Eben Vorster agste in ’n tyd van 2:05,69 min.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.