Lewis: ‘Max kan trots wees’

Lewis Hamilton en Max Verstappen. Foto: Antonin Vincent/AFP.

Laat ons nie doekies omdraai nie: Max Verstappen en Lewis Hamilton gaan waarskynlik nooit huisvriende word nie, maar die Mercedes-renjaer het die jong Nederlander met sy briljante seisoen geluk gewens.

Verstappen spog reeds vanjaar met die meeste wedrenseges (14) én die meeste punte (416) in ʼn enkele F1-seisoen. Indien alles in São Paulo en Abu Dhabi volgens plan verloop, kan nóg ʼn rekord of twee binnekort agter sy naam staan.

“Ek het wel nog nie kans gehad om alles te ontleed wat Max vanjaar vermag het nie, maar ek dink hy het hom ongelooflik van sy taak gekwyt,” het Hamilton gesê.

Volgens die 37-jarige Brit spog sy aartsvyand deesdae weliswaar met ʼn kragtige renmotor. Tog moes hy steeds agter die stuur klim om die wedrenne te wen.

“Hy het alles gedoen wat van hom verwag word. Hy kan selfs nou die rekords in meer permanente ink langs sy naam skryf as ons of Ferrari hom nie kan keer nie. Eintlik is daar nie veel meer om te sê nie – hy kan beslis trots wees.”

Haas se Kevin Magnussen het egter in sy 100ste wedren vir die Amerikaanse vervaardiger stof in sy teenstanders se oë geskop om eerste op die wegspringrooster vir vanaand se blitsren in Brasilië te staan.

Verstappen het in die tweede plek gekwalifiseer, gevolg deur Mercedes se George Russell. Hamilton moes met ʼn agtste plek tevrede wees.

Die blitsren is vanaand om 21:30 en die wedrenaksie begin môre om 20:00.

Wegspringrooster vir die blitsren:

  1. Kevin Magnussen (Haas)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Lando Norris (McLaren)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. Esteban Ocon (Alpine)
  7. Fernando Alonso (Alpine)
  8. Lewis Hamilton (Mercedes)
  9. Sergio Perez (Red Bull)
  10. Charles Leclerc (Ferrari)
  11. Alex Albon (Williams)
  12. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  13. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  14. Daniel Ricciardo (McLaren)
  15. Lance Stroll (Aston Martin)
  16. Nicholas Latifi (Williams)
  17. Zhou Guanyu (Alfa Romeo)
  18. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  19. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)
  20. Mick Schumacher (Haas).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.