Nóg rekords wink vir Max

Max Verstappen. Foto: Twitter.

Max Verstappen spog reeds vanjaar met die meeste wedrenseges (14) én die meeste punte (416) in ʼn enkele F1-seisoen. Maar soos die Nederlanders sou sê, “nog is het einde niet in zicht”.

Indien alles volgens plan in São Paulo en Abu Dhabi verloop, kan nóg ʼn rekord of twee binnekort agter die jong Red Bull-renjaer se naam staan.

Sebastian Vettel se rekord vir die grootste wêreldkampioenskap-triomf staan sedert 2013 toe die Duitser vir Fernando Alonso met 155 punte ore aangesit het.

Met sy magdom punte geniet Verstappen ʼn gemaklike voorsprong op die jaerspunteleer. Nie spanmaat Sergio Perez (280 punte) of Ferrari se Charles Leclerc (275 punte) is binne trefafstand  van die vlieënde Nederlander nie.

Dan kan sy eie podiumrekord ook geëwenaar word.

Die wêreldkampioen, wat verlede jaar 18 keer op die podium gestaan het, het vanjaar reeds 16 keer onder die voorste drie renjaers by ʼn wedren getel.

Hy het in slegs vier wedrenne (in Bahrein, Melbourne, Silverstone en Singapoer) nie die vonkelwynproppe laat klap nie.

Verstappen het egter al vantevore gesê dat rekords nie hoog op sy prioriteitslys is nie en dat spanwerk die sleutel tot sukses is.

Volgens die Red Bull-ster het hy nooit gedink dat hy 14 wedrenne in een seisoen sou wen nie; om dan nie eens van sy punterekord te praat nie.

“Daar wag nog ʼn wedren of twee op die kalender en hopelik kan ons selfs meer punte aanteken. Tog is dit die belangrikste om die wêreldkampioenskap vir jou span te wen; maak nie saak met hoeveel punte jy dit doen nie,” het hy ná die afgelope Mexikaanse Grand Prix gesê.

’n Wedren wat hy ook gewen het.

  • Sondag se wedrenaksie begin om 20:00 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos 100 ·

Alles goed en wel, maar daar is meer renne en punte beskikbaar nou as in 2013. Vettel se rekord dra vir my meer water.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.